DIE KERN VAN ALLES
Die Burger, 13 Desember 1986, bladsy 12
Die kern van die Bybelse boodskap is nie dat daar ’n God bestaan nie. Dit kan ’n mens ook sonder die Bybel weet. In alle eeue en by alle volke van die aarde is daar geglo aan die bestaan van God – en selfs wat die moderne mens betref – is daar ’n hele stuk beïnvloeding nodig om hom daarvan te oortuig dat God nie bestaan nie.
Die kern van die Bybelse boodskap is dat God Homself laat ken as die Vader van ons Here Jesus Christus, dat Hy in Jesus Homself met ons menslike bestaan en lot vereenselwig het, en dat Hy ons so lief het dat Hy, eerder as om ons prys te gee aan die vernietiging wat ons deur die sonde op onsself gehaal het, om ons ontwil die prys vir ons verlossing betaal het, sodat ons gered kon word.
Die kern van die Bybelse boodskap vind ons uitgedruk in ’n woord soos dié van die bekende Johannes 3:16 wat lui: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Alles, alles wat verder nog in die Bybel staan, vorm die raamwerk waarbinne hierdie woorde gelees en verstaan moet word. Die skeppingsverhaal, die geskiedenisse van die aartsvaders en die volk Israel, die uittog uit Egipte en die volksbestaan in Palestina, die prediking van die profete, die liedere en gebede van die Ou Testament – dit is alles niks anders nie, as die agtergrond van die evangelie van die liefde van God wat in die Kers-evangelie verkondig word.
Natuurlik moet ons sê: dit gaan in die Bybel nie net om ons verlossing nie. Dit gaan ten diepste oor die eer van God en sy totale en finale triomf oor die sonde. Maar tog is dit waar dat alles in die Bybel om Jesus en ons verlossing deur Hom draai. Jesus en ons verlossing in Hom is die weg waarlangs God tot sy hoogste eer en triomf oor die sonde en die gevolge daarvan kom. Daarom is Jesus die kern van die hele Bybel en is die Kers-evangelie die hart van die hele Skrif.
Dit behoort ’n baie duidelike stempel op ons omgang met die Bybel en ons geloofslewe af te druk. Ons moet die Bybel lees as een deurlopende getuienis van die verlossing in Christus. Niks in die Ou of die Nuwe Testament staan los van Jesus nie. As dit nie vir ons dadelik duidelik is hoe ’n bepaalde gedeelte van die Skrif met Hom in verband staan nie, sal ons daarmee moet bly worstel totdat ons dit kan sien.
En in ons persoonlike geloofslewe sal Jesus ’n baie sterker plek moet inneem. Te dikwels leef Christene op die vlak van die Ou Testament voor die openbaring in Christus. Te dikwels word ons godsdienstige lewe beheers deur ’n vae moralisme en ’n voorstelling van God as die Voorsienigheid of die Regter, terwyl dit gestempel behoort te wees deur die vreugde van kindskap deur Christus. Egte geloof is alleen daar aanwesig waar ons geloof in God terselfdertyd geloof in Jesus as ons Verlosser is. Hy is die kern van alles. – WDJ