DIE HEER VAN ONS HART
Die Burger, 11 Januarie 1986
Die oudste Christelike belydenis was maar kort: “Jesus is die Here!” Die bedoeling van hierdie kort belydenis was nie om enigiets te ontken van al die ander dinge wat ’n Christen bely aangaande God die Vader en sy openbaring in Christus en deur die Heilige Gees nie. Dit alles word in hierdie kort belydenis veronderstel en lê ook daarin opgesluit. Die bedoeling was egter om in hierdie toegespitste belydenis die skeidslyn tussen Christen en nie-Christen op die mees beslissende punt duidelik te trek.
Op die mees beslissende punt – ja, inderdaad – is die belydenis van die koningskap van Christus nog altyd die punt van beslissing tussen Christen en nie-Christen. Die Christelike belydenis staan en val by die vraag wie Jesus vir ons is. Jesus is nie maar iets bykomstigs by die geloof in God, sodat ’n mens desnoods ook sonder die geloof in Christus nog altyd ’n Christen kan wees nie. Wie Hom nie bely as die openbaring van God en as die Middelaar tussen God en die mense nie, kan nie ’n Christen wees nie. Maar dit geld juis daarom ook dat wie Hom nie as die Here erken aan wie se heerskappy hy sy lewe onderwerp nie, nié ’n Christen kan wees nie.
Ons kan nie Christus as ons Verlosser en Middelaar bely as ons Hom nie ook metterdaad in ons lewe as die Koning gehoorsaam nie. Ons kan nie op sy vergiffenis aanspraak maak as ons nie bereid is om Hom te volg op sy kruisweg, onsself te verloën en na sy beeld gevorm te word nie. Die belydenis dat Jesus die Here is, trek die belydenis aangaande die heil in Christus deur tot op die vlak van die lewenspraktyk en vra aan ons of ons Christus ook met ons dade en gesindhede liefhet.
Daar is in die geskiedenis van die kerk dikwels verskil oor die vraag waar die beslissing met betrekking tot die erkenning van die heerskappy van Christus val. Daar was altyd weer brandende kwessies van die dag wat op een of ander manier die punt geword het waarop die keuse vir of teen Christus in die praktyk toegespits is. Vir die vroeë Christene was dit die kwessie van die keiserverering. Wie nog offers vir die keiser gebrand het, is deur die ander Christene beskou as iemand wat Christus afgesweer het. In later tye was dit telkens iets anders wat so beslissend was.
In die gereformeerde tradisie waarin baie Christene in hierdie land staan, is dit ’n aanvaarde standpunt dat die koningskap van Christus op alle terreine van die lewe erken moet word, of dit nou om wetenskap of kultuur, om ekonomie of politiek gaan. Bekend is die uitspraak van Abraham Kuyper dat daar geen duimbreedte van hierdie werklikheid is waarvan Christus nie sê: “Dit is myne!” nie. Daarom is dit nie vreemd dat daar in die geskiedenis telkens kwessies opduik waarin hierdie belydenis getoets word nie.
En tog is die diepste kern daarvan altyd weer die vraag of Christus die Here van ons hart is. Daar val alle beslissings. As Christus daar regeer, kan Hy oral in ons lewe regeer. – WDJ