VERWARRING
Die Burger, 25 Januarie 1986
Tye soos die wat ons tans belewe, word altyd gekenmerk deur verwarring. Wanneer bekende toestande verander en daar ’n algemene gevoel van onsekerheid oor die toekoms posvat, is die situasie ryp vir die ontstaan van allerlei ideë wat aangedien word met die pretensie dat hulle die vinger op die kwaal van ons tyd kan lê, ’n verklaring het vir wat gebeur, en ’n oplossing kan bied vir die toekoms.
Van alle kante kom die stemme dan op ons af, en dit word uiters moeilik om te onderskei tussen waarheid en leuen, sin en onsin. Nie alleen word ons blootgestel aan ideologiese en godsdienstige fanatici wat van regs en links met hul eenogige visie op die werklikheid hul profetiese roeping meen te moet vervul nie. Ons word ook aangespreek deur die dwepers wat meen dat hulle ’n religieuse kitsresep het wat alle probleme sonder veel pyn en inspanning van ons kant af sal oplos.
Of ons word getrakteer op die spitsvondige spekulasies van mense wat meen dat hulle haarfyn kan aantoon dat dit nou die laaste dae is waarvan die profete gepraat het, sodat ons maar net moet wag om weggeraap te word uit al die ellende. Of, les bes, ons word in die kader van die mees flagrante antisemitisme en rassisme verseker dat die blankes die uitverkore volk van God is wat deur Hom bewaar sal word, mits hulle hulleself maar rein hou van alle bloedvermenging.
Dit is geen wonder dat mense naderhand in ’n volkome verwarring beland nie. Elkeen lyk ten volle oortuig van die waarheid van die boodskap wat hy aan ons oordra. Daarby beroep feitlik almal hulle op die Bybel. Hoe onderskei ’n mens dan tussen ware en valse profesie? Dit lyk of daar mense is wat in so ’n tyd van verwarring bereid is om na elke strooihalm te gryp en die vreemdste dinge te glo. Maar dit kan tog nie reg wees nie.
As Christene moet ons juis in sulke tye luister na die Bybelse vermaning om nugter te bly. Ons moenie elkeen glo wat na ons kom met die pretensie dat hy ’n besondere openbaring vir ons tyd het nie. Selfs al word hoe vroom en met persoonlike oortuiging van gesigte en openbaringe vertel, of na Bybeltekste verwys, moet ons die geeste nogtans op die proef stel (1 Johannes 4:1; Kolossense 2:16–19). Die boodskap van baie is eerder die resultaat van persoonlike en gemeenskaplike verwarring as die oplossing daarvoor.
Die sentrale boodskap en bedoeling van die Bybel is nie duister nie en is deur die eeue heen in die kerk van Christus geken en verstaan. Die waarheid van die Skrif het nie verander nie. As iemand na ons kom met ’n ander leer, moet ons dit aan die sentrale bedoeling van die Skrif toets. Niks wat daarmee in stryd is, hetsy in woord of resultaat, kan uit God wees nie. Ons moet ons in hierdie tyd juis nie laat aftrek van die sentrale boodskap van die Skrif na allerlei deelwaarhede of na die idees van mense nie. In alle verwarring moet ons aan Christus vashou en Hom volg. Slegs dit bring sekerheid. – WDJ