Om dankbaar te wees

OM DANKBAAR TE WEES
Die Burger, 15 Februarie 1986

Dit gebeur so maklik dat ons ingestel raak op die dinge wat vir ons moeilik is: op ons teenspoed en teleurstellings, op ons skade en verliese. Die gevolg is dat ons, voordat ons dit mooi besef, voortdurend net daaroor dink en daaroor kla.

Maar so word ons negatiewe en sugtende mense wat nie alleen in ons gesprekke met andere nie, maar selfs in ons gebede voor God net altyd oor ons swaarkry praat. Ons sorge en ons somberheid kry op hierdie manier die swaarste gewig in ons lewe en bepaal naderhand ook die grondstemming van ons hart.

Maar is dit werklik reg en nodig dat dit so moet wees? Is ons werklik seker dat ons swaarkry en ons ellendes so groot is dat dit met reg ons lewe kom beheer? Is dit nie nodig dat ’n mens ’n tydjie daarvoor afsonder om rustig by jouself die balans te gaan opmaak van alles wat aan die positiewe kant van jou lewensituasie is nie? Daar is mos nog baie dinge in jou lewe wat goed is en waarvoor jy dankbaar behoort te wees. Loop jy nie gevaar om dit te vergeet en as vanselfsprekend te aanvaar, terwyl jy so baie dink aan die dinge wat verkeerd is nie?

Ja, miskien is dit droog en die oes was ’n mislukking, of die hael het alles weggeslaan. Maar jou man en jou kinders lewe nog. Julle is nog bymekaar. Julle het mekaar nog lief. Julle het in baie opsigte ’n rykdom wat andere julle sou beny. Moet jy God nie daarvoor dank nie?

Of, dit is waar: ’n dierbare is wreed deur die dood weggeneem. Midde-in die vakansietyd het die droefheid skielik soos ’n groot voël in jou huis ingetrek om saam met jou te woon. Dit is verskriklik! Maar is jy seker dat daar niks is waaroor jy nogtans dankbaar moet wees nie?

Nee, ek kan nie sê wat dit is nie. Dit moet jy self ontdek. Dink maar goed na oor alles. Tas maar jou hele bestaan af. Dalk vind jy in die proses nie net een ding nie, maar talle dinge waarvoor jy, selfs jy, dankbaar kan wees.

Die Bybel wek ons voortdurend daartoe op om dankbaar te wees, om God altyd oor alles te dank in die Naam van ons Here Jesus Christus (Efesiërs 5:20). Dit kan ons alleen doen as ons ’n fundamentele rede tot dankbaarheid gevind het in die versekering dat God ons lief het en dat ons bestaan vir ewig vasgeanker is in sy sorg en goedheid. Dan verstaan ons dat die dinge wat ons tydelik tot droefheid stem, nie die laaste en finale dinge van ons bestaan is nie. Hoe pynlik hulle ook is, ons mag nie daaronder versink asof die bodem van ons lewe daarmee weggeneem is nie.

Om dankbaar te wees, is nie maar ’n plig nie. Dit is ’n stuk vryheid en daarin ook die weg van genesing. Wat ’n genade as ’n mens dit kan vind! – WDJ