DIT IS NOODSAAKLIK
Die Burger, 22 Februarie 1986
In ’n merkwaardige woord vermaan die skrywer van die Brief aan die Hebreërs ons: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14).
Die klaarblyklike betekenis van die woorde is dat die heiliging van ons lewe noodsaaklik is vir ons redding. Sonder heiligmaking, het die ou Afrikaanse vertaling gelui, sal niemand God sien nie. Dit beteken dat niemand sonder heiliging die salige gemeenskap met God kan smaak nie. Wie gered wil word, moet geheilig word.
Dit is inderdaad ’n baie ernstige vermaning en waarskuwing. Tog moet ons dit nie verkeerd interpreteer nie. Hierdie woorde beteken nie dat die heiliging ’n voorwaarde vir die redding is, wat eers vervul moet word, voordat ons gered kan word nie. Dan sou ons redding afhanklik word van ons heiliging, terwyl die Nuwe Testament ons duidelik leer dat die heiliging van ons lewe ’n deel van ons redding is. Net wie die redding klaar deelagtig is, kan geheilig word, nie omgekeerd nie.
Ons kan hierdie vermaning alleen reg verstaan, as ons onthou dat die heiliging in die Nuwe Testament gesien word as die bewys van die egtheid van ons verlossing in Christus. Wie werklik deur die geloof in Christus verlos is, sal en moet die vrug daarvan in ’n nuwe lewenswandel openbaar, al geskied dit dikwels ook gebrekkig. Gebeur dit nie, dan is dit ’n bewys daarvan dat die verlossing in Christus nog nie ’n werklikheid in ’n mens se lewe is nie.
Dit is waaroor die boodskap van die Brief van Jakobus handel. Geloof sonder werke is dood. Waar geen werke, geen lewensheiliging, geen gehoorsaamheid aan die gebod van God voorkom nie, kan daar dus ook geen reddende geloof wees nie. Daarom sê die Nuwe Testament ook dat ons geoordeel sal word volgens ons werke. Die bedoeling is nie dat ons gered word op grond van ons werke nie, maar dat ons werke beoordeel sal word om te sien of dit geloofswerke is, of dit die bewys bevat van die egtheid van ons verlossing in Christus. In hierdie sin is die heiligmaking heilsnoodsaaklik, en tog geen voorwaarde vir die redding nie, omdat dit self ’n vrug van die redding is.
En nou is dit opmerklik dat die apostel hier spesifiek die ywer vir vrede as tiperend vir heiligmaking sien. Heiligmaking het te doen met ons verhouding tot God en ons naaste. Wie vrede met God het, sal hom daarvoor beywer om ook vrede met sy naaste te hê. Ons verhouding tot ons medemense sal in die finale oordeel van God as bewys dien van die egtheid van ons verlossing (Matteus 25:31–46).
Daarom het Jesus die vredemakers salig genoem. Natuurlik is ’n mens salig as sy lewe gevul is met vrede – vrede met God en vrede met die naaste. Hy dra dan immers die beeld van die God van vrede en toon dat hy deel het aan die vrede wat God skenk. – WDJ