Die balk in ons oog

DIE BALK IN ONS OOG
Die Burger, 15 Maart 1986

Ons grootste probleem is nie dat ons nie weet wat reg en verkeerd is nie. Daaroor het alle mense, of hulle nou Christene is of nie, ’n redelike goeie oordeel. Ons sedelike bewussyn is basies vir ons menslikheid, en hoewel daarvoor toegelaat moet word dat dit in individuele mense verdring word en in wisselende omstandighede ook tot verskillende waarde-oordele kan lei, mag ons aanneem dat alle mense ’n aanvoeling het vir wat sedelik toelaatbaar is en wat nie.

Maar al weet ons ook wat reg en verkeerd is, is dit nog ’n ander vraag of ons in staat is om ons eie doen en late sedelik reg te beoordeel. Die selfliefde in ons is so groot, en die faktor van ons eiebelang speel so ’n groot rol in ons lewe, dat ons eenvoudig nie gebore in staat is om objektief oor onsself te oordeel nie. Op een of ander manier vind ons altyd weer rede genoeg om dinge wat ons by andere veroordeel, goed te praat wanneer hulle in ons eie lewe voorkom.

Die Here Jesus het selfs gesê dat ons meesters daarin is om die foute van ander mense raak te sien, selfs al gaan dit om foute van die formaat van ’n splintjie wat in iemand se oog beland het, maar dat ons terselfdertyd absoluut blind kan wees om die grofste boosheid in ons self raak te sien. Humoristies sê Hy dat ons ’n balk in ons eie oog kan hê, terwyl ons aanbied om die splinter uit andere se oog te haal (Matteus 7:3–5).

Die lewe leer dat die grootste moraliste wat altyd aan andere die les wil leer oor hulle foute, in hulle eie lewe geweldig immoreel kan wees. Daar is blykbaar ’n bepaalde verband tussen die balk in die eie oog en die vermoë om die splinter by andere raak te sien. Dit is dikwels so dat mense wat die hardste oordeel oor al die sondes van diegene rondom hulle, self vol eiegeregtigheid, liefdeloosheid en venyn is.

Daaruit kan ons leer dat ’n mens nooit van jouself moet dink dat jy sonder sonde is nie, selfs al maak jy aanspraak daarop dat jy die volheid van die Heilige Gees ontvang het en nou ’n lewe van oorwinning ingegaan het. Dit is altyd so dat ware heilige mense nie weet dat hulle heilig is nie, terwyl die wat vertel dat hulle heilig is, dikwels vir diegene rondom hulle onuitstaanbare wesens is, omdat hulle so vol van hulle self is.

Maar ons kan ook daaruit leer dat ons moet ophou om onsself te verdedig as andere ons aandag op verkeerde dinge in ons lewe vestig. Ons moet liewer onsself dan goed gaan ondersoek. Ons eerste reaksie is wel om onsself te verdedig en met talle redenasies aan te toon dat ons natuurlik geen foute gemaak het nie en niks het om te bely nie. Ons kan daarby vir ons eie besef nog eerlik ook wees. Ons voel werklik so. Maar wie waarborg dat dit nie die balk in ons oog is wat ons verhinder om ons eie sonde te ontdek nie? Dit is verskriklik moeilik om eerlik met en oor onsself te word. – WDJ