CHRISTUS IS MEER AS ONS HART
Die Burger, 22 Maart 1986
Ons is dikwels geneig om ons sekerheid aangaande ons eie verlossing te baseer op ons ervaring of gevoel. As ’n mens aan iemand vra hoe hy weet dat hy ’n kind van God is, sal hy dikwels antwoord deur te verwys na sy bekering of die ervaring wat hy op ’n bepaalde dag met God gehad het. Of hy sal aan jou sê dat die Bybel ons tog leer dat elkeen wat in Christus glo, die ewige lewe het, en dat hy weet dat hy glo. Daarom is hy seker.
Uiteraard is hierdie soort antwoord nie verkeerd nie. Ons moet egter onthou dat hierdie antwoorde verwys na iets wat ons self gedoen of ervaar het, wat (hoe belangrik ook al) nie die diepste grond van ons sekerheid aangaande ons verlossing kan vorm nie. As ons ons sekerheid slegs bou op die feit van ons eie geloof, op die feit dat ons Christus aangeneem het, of op die herinnering aan een of ander ervaring wat ons gehad het, is die moontlikheid altyd daar dat ons later daaraan sal twyfel of ons geloof en ervarings werklik eg was.
Daarom het ons behoefte aan ’n vaster grond vir ons sekerheid as die subjektiewe sekerheid wat ons eie hart ons bied. Ons het ’n objektiewe grond vir ons sekerheid nodig, sodat ons daarop kan terugval in dae van twyfel en aanvegting.
Die Bybel gee ook aan ons so ’n vaste grond vir ons sekerheid, en dit is die evangelie van Christus. Die Bybel verseker ons op Gods gesag dat God ons in Christus uitverkies het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, dat Christus uit die dood opgewek is en dat ons in die opstanding van Christus gered en geregverdig is; dat ons lewe met Christus in God verborge is en dat niemand ons ooit uit die hand van God kan ruk nie.
Dit is objektief waar, en dit word aan ons betuig, nie slegs in die Woord van God wat aan ons die versekering gee dat dit alles vir ons bedoel is nie, maar ook in die sakramente, met name in die doop. Hierdie objektiewe waarheid van Christus is die grond van ons sekerheid waaraan ons in die geloof moet vashou. Ons sekerheid lê dus nie in ons eie hart nie, maar in Christus. Hy is meer as ons hart, meer as ons ervarings, meer as ons opregte bedoelinge om Hom aan te neem.
Wanneer die duiwel ons aanveg met die vraag of ons geloof en bekering ooit eg was, of ons geloof sterk genoeg is, of die vernuwing van ons lewe al goed genoeg is sodat ons die ewige lewe waardig kan wees, moet ons hom nie probeer bestry deur met hom oor ons geloof en ervarings te redeneer nie. Ons moet sy mond toestop deur ons te beroep op die objektiewe werklikheid van wat Christus is en gedoen het. Hy het geen vat op ’n mens wat hom op Christus beroep en hom op Gods beloftes verlaat nie. Maar hy word vir ons te sterk as ons probeer om in onsself redes te vind waarom ons nie nog verlore sou wees nie. – WDJ