Boodskap van versoening

BOODSKAP VAN VERSOENING
Die Burger, 28 Maart 1986

Die boodskap van Goeie Vrydag is die boodskap van versoening. Dit is die hart van die evangelie, dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het (2 Korintiërs 5:19). Dit is die goeie tyding, die allerbeste tyding wat ’n mens kan ontvang. Daar kan niks wees wat vir ons belangriker kan wees as dit nie. Daarom noem ons hierdie dag Goeie Vrydag. Dit was ’n goeie dag – dié dag toe God sy liefde vir ons met die dood van sy Seun beseël het.

Wie egter stil word onder die boodskap van Goeie Vrydag, besef met skrik watter geweldige dinge nodig was om ons met God te versoen. Daar moes werklik deur die dood heengegaan word en deur die donker afgronde van die helse verskrikking, as ons weer tot die gemeenskap met God toegang moes verkry. Dit het van God werklik die uiterste prys gevra, die hoogste offer van die liefde, die prysgawe van sy Seun aan die vloek van die kruis, om vrede tussen Hom en ons te maak.

Verkeerde weë
Dit is nie so dat ons net soos ons is na God kon gaan nie. Dit is nie genoeg om te sê dat ons berou het oor ons verkeerde weë en dat ons ons daarvan wil bekeer nie. Allermins is dit so dat ons onsself maar net moreel kan verbeter en dan kan dink dat ons tog vir God aanvaarbaar behoort te wees. Wie dit sou dink, bewys daarmee dat hy geen benul het van die erns en die vreeslikheid van die sonde nie.

Dit is ’n oer-heidense idee dat die mens uit eie kragte, deur berou en deur selfverbetering goed genoeg kan word vir die gemeenskap met God. Die Bybel leer ons egter dat dit onmoontlik is. As die vyandskap tussen die mens en God wat deur die sonde tot stand gekom het, beëindig moet word en daar weer gemeenskap met God tot stand moet kom, dan kan dit alleen gebeur aan die ander kant van die vuurlinie, die doodslinie wat God en die sondaar van mekaar skei. Daar is geen versoening tussen God en die sondaar moontlik as die sonde wat tussen hulle staan, nie eers verwyder en bedek, gestraf en daarmee vernietig is nie.

Herskepping
Dit is dieselfde as om te sê dat daar geen versoening sonder voldoening is nie. Die Ou Testament beeld dit reeds uit in die offers. Sonder bloedstorting is daar geen versoening en gemeenskap met God moontlik nie. Die Godheid van God is daarmee gemoeid dat Hy die reg handhaaf, dat Hy die kwaad herstel, dat Hy sy oordeel laat heengaan oor die ou sondaarslewe en dit vernietig, sodat daar ’n herskepping kan plaasvind, ’n opwekking uit die dood tot ’n nuwe, onverganklike lewe.

Daarom het God aan Israel die offers op die altaar gegee. Die bedoeling daarvan was dat die sondaar sy ou sondige lewe simbolies saam met die offerdier in die dood aflê, sodat God in hom deur die Gees ’n nuwe lewe kan opwek. Dit alles het egter heengewys na die groot Offer wat sou kom, Jesus wat eenmaal aan die kruis die Lam sou wees wat die sonde van die wêreld wegneem.

’n Vergissing
Dit is ’n vergissing om te dink dat die genade van God beteken dat Hy die sonde maar laat vir wat dit is of dit deur die vingers sien. Die genade van God is dat Hy self die offer op die altaar gee om die sonde weg te neem, ja dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom as die groot Offerlam gegee het om in ons plek te sterwe, sodat ons nie die ewige dood as straf op ons sondes hoef te ontvang nie. En die effek van die versoening is nie maar net die vergiffenis van ons sondes nie, maar die herskepping van ons lewe, sodat die mag en die effek van die sonde uiteindelik totaal vernietig sal wees.

Die Bybel leer ons dat Christus die Middelaar is in wie ons almal saamgevat is, sodat Hy ons almal verteenwoordig. Daarom was sy dood ook ons dood. Ons ou lewe is in Hom in die dood oorgegee. Ons is met Christus gekruisig. Verborge in Hom het ons ou mens reeds gesterwe. In Christus is ons reeds ’n nuwe skepping van God. Ons is in Hom opgewek tot ’n nuwe lewe – selfs al ervaar ons dit nog nie. Deur die Heilige Gees word dit egter in ons lewe oorgebring. Hy maak ons nuwe werklikheid deur die geloof in ons openbaar. Ons word werklik wat ons in Christus is. Ons word mense wat met God versoen is, en ons begin lewe soos versoende mense.

Só dra die versoening wat God bewerk het, ’n totale karakter. Ons sonde is gestraf en weggeneem. Ons ou sondige natuur is in die dood afgegee. Ons vyandskap met God is uit die weg geruim. En ons begin hoe langer hoe meer te lewe soos vriende van God, geliefde kinders en huisgenote van God. God doen nie halwe werk nie. Hy neem die oorsaak van die verwydering tussen ons en Hom weg. En Hy vervul ons lewe met die vrede wat die vrug van die versoening is. – WDJ