MET GOD EN MET MEKAAR
Die Burger, 5 April 1986
Op Goeie Vrydag staan die Christelike kerk stil by die boodskap van versoening. Aan die kruis van Christus het God vrede gemaak tussen die sondige mens en Homself. Wie dit nie glo en homself beskou as ’n mens wat deur Christus met God versoen is nie, mag homself nie ’n Christen noem nie.
Dit is nie allerlei beginsels of morele oortuigings wat ’n mens tot ’n Christen maak nie, dit is die geloof in die versoening met God deur die kruis van Christus. ’n Christen is ’n mens wat met God versoen is, ’n mens wat weet dat sy sondes hom om Christus ontwil vergewe is, ’n mens wat in lewe en in sterwe sy enigste troos vind in die kruis van Golgota. Niks anders as dit kan van ’n mens ’n Christen en ’n kind van God maak nie.
Dit is egter onmoontlik om met God versoen te wees en nie die vrug daarvan in ons lewe te openbaar nie. Wie met God versoen is, word ’n versoende mens en hy gaan soos ’n versoende mens lewe. Dit het noodwendig effek vir sy hele lewe, en in die besonder ook vir sy verhouding met sy medemense. Die Bybel bring ons versoening met God en ons versoening met ons medemense in ’n baie innige verband met mekaar.
Ons kan dit die versoening met ’n hoofletter en die versoening met ’n kleinletter noem. Veral die Brief aan die Efesiërs lê baie klem daarop dat die versoening met God terselfdertyd ook die onderlinge versoening tussen alle kinders van God is. Die muur van vyandskap is tussen hulle afgebreek. Hulle is tot een nuwe mensheid saamgevoeg (Efesiërs 2:14 ev). Dit is onmoontlik om die versoening met God te hê sonder die versoening met die medegelowiges.
Wie dus weier om met sy medegelowige versoen te wees, verloën ook die versoening wat Christus vir ons met God bewerk het. Oral waar Christene geestelike gemeenskap met ander gelowiges weier omdat hulle sulke Christene verag en verwerp; oral waar hulle nie die eenheid van die liggaam van Christus saam met ander gelowiges wil belewe nie – omdat hulle nie daardie gelowiges as broeders en susters wil aanvaar nie – verwerp hulle in werklikheid die versoening in Christus as sodanig, hoe mooi hulle dit ook al vir hulself rasionaliseer.
Die nagmaal is die feesmaal waar die versoening deur Christus met God en met mekaar gevier word. Daarom is die gesamentlike viering van die nagmaal in die Christelike kerk van soveel betekenis. Die gemeenskap aan die nagmaalstafel kan iemand net geweier word as van hom aanvaar moet word dat hy homself nie met God en sy naaste wil versoen nie. Daarom is dit so verskriklik as Christene op ander gronde, soos byvoorbeeld op grond van ras en kleur, weier om saam met medegelowiges nagmaal te vier. Het sulke mense ooit enige begrip van wat hulle doen? – WDJ