’n Dubbele identiteit

’N DUBBELE IDENTITEIT
Die Burger, 12 April 1986

Alle sosiologiese ondersoeke bevestig dat die kerke die instellings in die samelewing is wat die hoogste bydrae lewer tot die bestendiging van die bestaande. Hulle vervul ’n saambindende rol, sanksioneer die morele bindinge in die samelewing en gee so vastigheid en duurte aan die samelewing.

Hierdie karakter van haas alle gevestigde kerke kan uit die oogpunt van die sosioloog van groot betekenis wees; vir die kerke self hou dit ’n groot gevaar in. Dit kan baie maklik gebeur, en gebeur ook feitlik deurgaans met alle kerke, dat hulle op hierdie wyse gelyk geskakel word met die samelewing wat hulle dien. Hulle het wel nog die Bybel en gaan nog wel om met die hoogspanningsdraad van die openbaring van God, maar hulle slaag daarin om dit mak te maak en die kragstroom deur transformators heen te lei totdat dit huishoudelik hanteerbaar en onskadelik is. So kom baie kerke meer in diens van die samelewing as in diens van die koninkryk van God te staan. Die boodskap wat hulle verkondig, dien meer daartoe om die bestaande te bevestig as om dit onder die kritiek van die Woord van God te stel.

Die sinikus mag hom  hieroor verbly, omdat dit minstens beteken dat die kerke weinig revolusionêre potensiaal het. Politieke predikante en revolusionêre ideoloë loop hulle altyd weer vas teen wat hulle as die onbeweeglikheid en onwil van die kerke sien om by politieke aktivisme betrokke te raak. Maar al verbly ’n mens jou daaroor dat kerke hulle nie vir revolusionêre doeleindes laat gebruik nie, moet ons ook oog daarvoor hê dat kerke so met die samelewing geïdentifiseer kan raak, dat hulle nie meer krities daarteenoor kan staan nie.

Dit hoef natuurlik nie so te wees nie. Dit is moontlik vir die kerk om meer te wees as ’n instelling wat die bestaande bevestig. Sonder om revolusionêr te werk te gaan, kan die kerk as ’n kritiese instansie in die samelewing funksioneer. Dit is moontlik vir sover die kerk werklik lewe uit die geloof wat hy bely.

Die Christen en ook die kerk het ’n dubbele identiteit. Hulle het ’n horisontale identiteit wat hulle ontvang van die samelewing waarin hulle lewe. Maar daarin kan hulle nooit opgaan nie. Deur hulle verbondenheid met Christus ontvang hulle ook ’n ander identiteit, ’n vertikale of geestelike identiteit. En die twee dinge val nie saam nie.

Die kerk mag nooit opgaan in sy horisontale identiteit nie. Hy weet immers van die koninkryk van God wat haaks staan op die werklikhede van ons sondige wêreld. Daaraan ontleen die kerk die moontlikheid om nie alleen krities te staan teenoor die samelewing waarvan dit ’n deel vorm nie, maar om ook in sy eie lewe te illustreer wat die identiteit is wat die koninkryk van God aan ons verleen. En so kan die kerk deur woord en daad getuig dat die samelewing anders kan word as wat dit is. – WDJ