DIE BROOSHEID VAN DIE LEWE
Die Burger, 19 April 1986
In die gewone gang van sake besef ons nie hoe broos en breekbaar ons lewe werklik is nie. Veral as ons jonk is, voel dit miskien vir ons asof ons sterk is en niks het om besorg oor te wees nie. Ons hou nie altyd rekening daarmee dat dit nie vanselfsprekend is dat alles net altyd goed met ons sal gaan nie.
Dit is egter lank nie net jong mense wat vergeet hoe breekbaar hul lewe is nie. Ook ouer mense kan baie maklik dink dat hulle hul lewe kan beplan soos hulle graag wil, sonder om altyd rekening te hou met die onsekerheid van al ons menslike planne. Die Bybel vertel ons van die ryk dwaas wat pragtige planne vir ’n kommervrye oudag gemaak het, maar wie se lewe nog in dieselfde nag van hom weggeneem is. En Jakobus vermaan ons om nie so maklik verklarings te doen oor wat ons oor ’n jaar gaan doen nie, omdat ons nie eers weet wat môre sal gebeur nie.
Dit is dikwels eers as ons op ’n skokkende wyse gekonfronteer word met wat alles in ’n mens se lewe verkeerd kan gaan, dat ons besef hoe dankbaar ons behoort te wees vir al die goeie dinge wat ons ervaar. ’n Mens moet maar ’n keer ’n besoek bring aan ’n kinderhospitaal en daar kennis neem van wat alles reeds voor die geboorte of tydens die geboorte met ’n mens verkeerd kan gaan. Of ’n mens moet ’n keer tyd inruim om na ’n inrigting te gaan waar mense versorg word wat een of ander vorm van breinskade opgedoen het. Eers dan besef jy miskien hoe maklik jy self deur die geringste dinge wat verkeerd kon gegaan het, in dieselfde posisie as een van daardie mense kon verkeer het.
Op duisende maniere is ons elke dag blootgestel aan gevare. ’n Enkele oomblik se agtelosigheid in die verkeer, ’n enkele verkeerde ontwikkeling in ons gestel, ’n onverwagte sameloop van omstandighede – kan vir ons veel lyding of selfs die einde van ons lewe beteken. Daagliks gebeur daar ook met mense sulke dinge. Daar is geen rede waarom dit nie ook met ons sou kon gebeur nie.
Ons behoort daagliks te lewe met die bewussyn van die broosheid van ons lewe – nie om daardeur vreesagtige en gespanne mense te word nie (asof ons spanning ons enigsins van ongelukkige gebeurtenisse kan red), maar om daardeur te leer om uit die besef van ons afhanklikheid van God te lewe.
Die Bybel leer ons om die broosheid van ons lewe in die geloof te verstaan as ons afhanklikheid van God. Daardeur word die angs daaruit weggeneem. Terwyl ons dankbaar elke goeie dag uit Sy hand ontvang, leer ons om daarop te vertrou dat geen haar van ons hoof op die grond sal val sonder die wil van ons Hemelse Vader nie (Matteus 10:29). Hoe breekbaar ook al, is ons lewe tog nie aan die toeval of die noodlot uitgelewer nie, maar val dit onder Gods sorg en liefde. – WDJ