DIE KRITIESE WOORD
Die Burger, 3 Mei 1986
Die prediking kan nie net troos nie. Dit bevat altyd ook ’n element van insnydende kritiek teenoor die hoorders van die Woord.
Dit sien ons deurgaans in die Bybel. Die profete kan die teerste trooswoorde uitspreek en die volk verseker van die ewige liefde en trou van God. Maar direk daarna lê hulle die sonde van die volk bloot en roep hulle op tot bekering, juis omdat God hulle so liefhet. So is dit ook in die Nuwe Testament. Die troos van die evangelie bevat op sigself die oproep om om te draai van die verkeerde weg. Die genadewoord is terselfdertyd ’n kritiese woord wat reinigend insny in ons sondige lewe.
Daarom kan die prediking van die kerk ook nie net ’n troosboodskap wees nie. Dit is uiteraard wat die hoorders graag wil hê. Hulle hoor graag dat God aan hul kant staan, dat Hy nie sal toelaat dat hulle sal ondergaan nie, dat daar net ’n oomblik in sy toorn is, maar ’n ewigheid in sy barmhartigheid. Maar die prediker wat altyd maar net troos, verkondig nie die volle boodskap nie. Die evangelie bied troos in verbryseling. Daarom gaan die troos van die evangelie altyd gepaard met ’n boodskap van bekering.
Waar dit nie gebeur nie, is dit ’n teken dat die volle evangelie nie meer verkondig word nie. Dit kan baie maklik gebeur wanneer die prediker hom dermate met sy hoorders se aardse nood vereenselwig dat hy nie meer krities teenoor hulle kan staan nie. Wanneer alles in die prediking om die maatskaplike en politieke nood of die tydelike beproewinge van die gemeente draai, kan die boodskap van bekering maklik geruisloos uit die prediking verdwyn.
So kan die evangelie net ’n boodskap van aardse troos en belofte word, sonder om die hoorders te konfronteer met hul sonde en geestelike verlorenheid. Die gevaar is dan dat die sonde nog slegs op één manier in die prediking ter sprake kom, en dit is as die sonde van andere.
Die hoorders self word nie meer tot bekering opgeroep nie; die enigstes wat hulle moet bekeer, is die andere, die boosdoeners, die verteenwoordigers van die “sisteem”, of die aanstokers van onrus, of die “vyand”. Die kritiese woord teenoor die eie gemeente ontbreek eenvoudig. Dan neem die ideologie so maklik oor, en die evangelie word op maat geknip en kan nie meer verwond nie, met die gevolg dat dit ook nie meer eg kan troos nie.
Veral in ons verdeelde land moet die prediking ’n kritiese stem wees. Die taak rus op die predikante om in elke gemeenskap wat hulle dien, die kritiese woord te spreek. Kritiek op ander gemeenskappe is dikwels nie goed hoorbaar nie. Wat ons baie nodig het, is die duur woord van ingrypende kritiek teenoor onsself. Want dat ons almal bekering nodig het, kan niemand betwyfel nie. – WDJ