Christus ons hoop

CHRISTUS ONS HOOP
Die Burger, 8 Mei 1986

Op Hemelvaartsdag vier die Christelike kerk die troonsbestyging van Christus. Daarmee word uitdrukking gegee aan die belydenis dat Christus verhoog is aan die regterhand van God en dat aan Hom die heerskappy oor alle dinge toevertrou is. In hierdie belydenis lê die vertroue opgesluit dat die gang van die geskiedenis, ja dat alle gebeurtenisse in ons lewe nie aan die toeval of die noodlot oorgelaat is nie, maar in die hande rus van Christus aan Wie alle mag in die hemel en op aarde gegee is.

Dit maak van die boodskap van Hemelvaartsdag ’n boodskap van troos en hoop. Dit wil ons opnuut daarvan verseker dat die dinge onder beheer is en dat niks in die wêreld kan gebeur wat nie direk of indirek die koms van die koninkryk van God dien nie. Watter vreemde en ontstellende dinge ook mag gebeur, ons mag tog daaraan vashou dat die heerskappy van Christus oor alles gaan, en dat Hy in staat is om selfs uit die kwaad die goeie gebore te laat word. Uiteindelik sal dit die genade, die liefde en die goedheid van Christus wees wat in die geskiedenis triomfeer, nie die magte van die duisternis nie.

Ons lewe in gevaarlike en verwarrende tye. Dit bring ons soms in groot spanning, veral as dit duidelik word dat dinge klaarblyklik anders verloop as wat ons beplan en gehoop het. Die natuurlike reaksie van ons kant is dan om rondom ons te begin kyk en om berekeninge te begin maak van hoe die geskiedenis sal verloop op grond van die faktore en kragte wat ons rondom ons aan die werk sien. Dit kan daartoe lei dat ons swartgallig word, moedeloos en wanhopig, omdat ons op grond van redelike oorwegings meen dat die toekoms net donkerheid kan bring.

Ons vergeet daarby egter baie maklik dat die uiteindelike gang van sake nie bepaal word deur die magte en kragte van die geskiedenis wat vir ons sigbaar is nie, maar deur Christus wat op die troon sit en oor die geskiedenis regeer. Solank ons Christus buite rekening laat, het ons ook weinig rede om positiewe verwagtinge van die toekoms te koester.

Alles wat ons tot dusver gesê het, geld immers slegs as ons in die geloof aan Christus verbonde is en ons met sy koninkryk en heerskappy vereenselwig. Ons het geen reg om onsself met die heerskappy van Christus te troos, as ons onsself skaar by die magte van teenstand teen sy heerskappy nie. Dan moet ons dit eerder vrees, omdat ons deel vorm van die vyandskap teen Christus wat uit die weg geruim moet word, sodat Hy oor alle weerstand kan triomfeer.

Die Christelike hoop is die vrug van die geloof in Christus as ons Verlosser en Heer. Wie aan Christus vashou, wie met Hom verenig is, het homself vereenselwig met die saak van Christus. Sy hoop en verwagting moet daarom primêr gerig wees op die triomf van Christus en sy koninkryk, en mag nie meer egosentries rondom die eie voorspoed en welsyn draai nie. Wie dit verstaan, sal uiteraard ook anders na die toekoms kyk. Hy sal nie slegs meer met sorg dink aan wat moontlik met homself en sy eie belange kan gebeur nie, maar hy sal begin hoop op die triomf van die koninkryk van God.

Daar is ’n geweldige stuk bekering by ons nodig voordat ons werklik Christelik oor die dinge kan dink. Van nature dink ons heidens, vanuit ons eie belang, ons eie welsyn. Selfs die godsdienstige mens moet daarteen waak dat sy godsdiens nie basies ’n heidense godsdienstigheid bly, wat van God net die bevestiging en uitvoering van sy eie planne verwag, en nie weet wat dit is om gewillig te word om volkome by God se planne ingeskakel te word nie.

Wie werklik aan Christus behoort en vanuit Hom oor die dinge begin dink, sal natuurlik niks daarby verloor nie. Hy kan net alles wen. Dit wil nie sê dat hy nie betrokke kan raak in veel donkerheid en ellende nie, want die heerskappy van Christus geskied te midde van sy vyande en daarom is die geskiedenis ook vol van oordeel en stryd. Wie egter ’n kind van die koninkryk is, sal uitvind dat sy beste belange opgeneem is in die belange van Christus, dat sy lewe eintlik eers bevestiging en ruimte vind as dit geborge is in die triomfgang van Christus, en dat hy te midde van stryd en oordeel bewaar en gelouter word.

Nie in die realisering van ons eie wil en planne nie, maar in die totstandkoming van die wil en planne van God is ons heil beslote. Ons hoogste belang is dat Christus sal triomfeer. As ons só na die toekoms kyk, het ons alle rede om op Hemelvaartsdag God daaroor te prys dat alles by Hom veilig is, omdat Christus regeer. – WDJ