DIE ROL VAN EIEBELANG
Die Burger, 24 Mei 1986
Dat ’n mens vir sy eie belange opkom, is natuurlik. Niemand hoef ons dit te leer nie. Dit is vir ons net so vanselfsprekend as wat dit vir ons is om ons eie lewe te beskerm en te versorg.
Dit is nie sonder meer sonde om na ons eiebelange om te sien nie. Soos ’n mens jou lewe dankbaar uit die hand van God ontvang, is dit ook jou taak om na die regmatige behoeftes en belange van jou eie lewe en van diegene wat aan jou sorg toevertrou is, om te sien. ’n Mens kan jou voorstel dat die mens, selfs al was by nie ’n sondaar nie, na sy regmatige belange sou omgesien het, maar dan sou by dit gedoen het sonder dat dit die belange van andere bedreig. Omdat die mens egter ’n sondaar is, kom elke lewensuiting van hom ander die mag van die sonde. Dit geld ook vir die drang tot selfbehoud en die bevordering van sy eie belange. Die eiebelang wat die sondige mens beskerm, is dan sy sondige eiebelang. Die mens se verhouding tot homself en tot andere is versteur. Daarom het hy geen suiwer besef van wat in sy eie belang is nie, maar word hy deur sondige selfliefde, trots en hebsug gedryf. Wat hy dan as sy eie belange sien en die wyse waarop hy dit ten koste van andere najaag en beskerm, lei dikwels onherroeplik tot sy eie ondergang.
Die Bybel leer ons dat ’n mens se eiebelang nooit iets is wat los kan staan van die belange van die ander mense met wie hy saam moet lewe nie. Elke mens se belange is vervleg met die van sy medemense. Wie homself losmaak van sy medemense en probeer om sy eie belange te dien ten koste van dié van andere, is soos ’n kankersel wat in die liggaam van die mensheid groei. Hy kan net dood en verwoesting oes, vir andere, maar ook vir homself.
God het ons nou eenmaal so geskep dat ons eie belange daarin geleë is om die belange van andere te soek. As ons almal mekaar se belange sou soek, sou almal se belange beskerm word. Wanneer elkeen egter sy gewaande eie belange soek ten koste van die van andere, is almal se belange in die gedrang.
Paulus vermaan die Filippense om nie elkeen na sy eie belange om te sien nie, maar ook na die van die ander (Filippense 2:4). Dit is alleen moontlik as ’n mens verstaan dat ons op mekaar aangewese is en alleen in ons wedersydse sorg vir mekaar gelukkig kan wees. Die paradoksale situasie is dat ’n mens se belange die beste gedien word as jy dit nie self probeer dien nie, maar dit op die agtergrond stel om na andere se belange om te sien.
Dit vra egter ’n hartsverandering en ’n grondige vernuwing van ons instelling teenoor die lewe en teenoor onsself wat van buite onsself moet kom. Dit is ’n genadegeskenk van God, waardeur Hy aan ons iets meedeel van hoe Hy self is. Maar juis daarom gaan dit in die Christelike geloof. – WDJ