GEBED VIR DIE OWERHEID
Die Burger, 31 Mei 1986
Ons vier vandag die 25ste verjaardag van die Republiek van Suid-Afrika. Dat ons dit onder ’n betrokke lug doen, mag nie beteken dat ons versuim om God te dank vir die staat as sy instelling, vir die bewarende en stabiliserende rol wat die staat ook gedurende hierdie kwarteeu in ons land gespeel het, vir die beskerming wat dit ons gebied het, en vir die persone wat deur hierdie jare heen die verskillende funksies van die staat as hul opdrag gehad het nie.
In die lig van die Bybel moet ons baie positief oor die staat as instelling van God dink. In ’n sondige wêreld is dit bedoel om in die samelewing van mense voorsiening te maak vir geregtigheid en vrede, om die sonde te beteuel en die goeie te beskerm, en om sover moontlik vir alle burgers die geleentheid vry te hou om tot volle selfontplooiing en die vervulling van hul lewensroeping te kom.
Sonder die ordenende en bewarende funksie van die staat sou die menslike samelewing in ’n chaos verval. Daarom mag die betekenis van die staat vir die menslike lewe nie gering geag word nie. Selfs ’n gebrekkige werking van die staat is beter as volkome wanorde. Reeds om hierdie rede is dit noodsaaklik om vir die staat as instelling te bid, dat dit in stand gehou en van verwording en verval bewaar word.
Ons moet egter nie net vir die staat as instelling bid nie, maar bepaald ook vir die owerheidspersone wat die funksionering van die staat behartig. Aan hulle is ’n duiselingwekkend groot verantwoordelikheid toevertrou. Hul opdrag en mag, waardeur hulle in ’n posisie is om oor die belange van ander mense, en in ’n bepaalde sin selfs oor hul lewens te beskik, verg van hulle ’n besondere graad van wysheid en persoonlike integriteit. Kortsigtigheid, partydigheid en die najaag van eie belange is eenvoudig ondraaglik by mense aan wie die belange van die hele land toevertrou is.
Ook daarom is die Bybel so uitgesproke oor die voorbidding vir die owerheid. Regeerders is immers ook maar mense, sondige mense. Ook hulle kan leef vanuit vooroordele, dwaas wees in hul oorlegginge, gevangenes van strukture, onvry in hul kyk op die werklikheid.
Selfs die demokrasie met sy ingeboude kontroles is lank nie altyd ’n waarborg daarvoor dat regeerders nie voor allerlei skadelike versoekinge sal swig nie. Die regskapenheid wat nodig is om te regeer, is ’n gawe van God, en dit pas ons om te bid dat God dit aan alle betrokkenes sal skenk.
Ons gebed vir die owerheid is dus veel meer as ’n formaliteit. Dit is ’n wesenlike deel van die diens van die kerk wat ons nooit mag verwaarloos nie, ongeag ons eie politieke oortuigings. Die staat is immers meer as die verskillende politieke groeperinge, en Gods sorg oor die verteenwoordigers daarvan is in almal se belang. – WDJ