Afsonderlike Kerke vir Afsonderlike Bevolkingsgroepe?

AFSONDERLIKE KERKE VIR AFSONDERLIKE BEVOLKINGSGROEPE?
Enkele opmerkings oor die sendingbeleid van die Nederduits Gereformeerde  Kerk
WD Jonker
Fakulteit Teologie Universiteit van Stellenbosch
Scriptura 17 (1986), 1-14

 Abstract

This is a comment on the request of Portuguese members of the Dutch Reformed Church to establish their own autonomous Church. While conceding that such a step would be in accordance with the standing missions policy of the DRC – separate Churches for different population groups – the author argues that this should not be done at this stage. He is convinced that neither the Holy Scripture, nor the traditional Reformed principles of Church polity favour separate Churches for different population groups. On the contrary, the communion of saints demands that local churches not only practice Christian fellowship amongst themselves, but also extend a structural bond of love to all bearing the name of Christ. The diversity amongst members of the Church of Christ should neither be ignored nor regarded as reason for dividing the Church into separate racial or cultural ecclesiastical institutions, jeopardising true Christian fellowship among all members of the Church. The author contends that, apart from non-theological factors which have influenced this development, the nineteenth century view of the Church exercised specific influences on the present missions policy of the DRC.

Voor die Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk (voortaan NGK), het in 1982 ’n beskrywingspunt gedien met die versoek dat daar ’n afsonderlike kerk gestig moet word vir Portugeessprekendes wat gedurende die afgelope aantal jare lid van die NGK geword het. Op sigself gaan dit hier nie om ’n groot aantal lidmate nie, en tot op daardie datum is hulle ingeskakel by die Engelssprekende gemeentes van die NGK. Die behoefte het egter ontstaan om ’n eie kerkverband vir die Portugeessprekendes tot stand te bring wat meer spesifiek na die behoeftes van hierdie taal- en kultuurgroep kan omsien. Die resultant was die versoek om, in ooreenstemming met die algemene “sendingbeleid” van die NG Kerk, ’n afsonderlike kerk vir Portugeessprekendes in die lewe te roep.

Die gewig van die beslissing waarvoor die Sinode daarmee gestel is, moet nie onderskat word nie. Die bestaande beleid van die NGK was nog steeds om afsonderlike kerke vir verskillende bevolkingsgroepe te stig, maar dan het dit altyd gegaan om bevolkingsgroepe wat ook van in ander ras was. Vir die Engelssprekende lidmate is by name nie ’n afsonderlike kerk gestig nie. Hulle gemeentes skakel in by die kerkverband van die NGK. In die geval van die Portugese gaan dit ook nie om mense van ’n ander ras nie, maar wel van ‘n ander taal en kultuur.

Die vraag waarvoor die Sinode dus gestel is, was of sy sendingbeleid van die verlede beteken dat mense van verskillende taal en kultuur liefs in afsonderlike kerke georganiseer moet word, wat dus sou beteken dat ‘n afsonderlike kerk vir Portugeessprekendes vanselfsprekend sou wees. Dit sou ook die voordeel hê dat, soos een sinodelid dit gestel het, dit duidelik gemaak sou kon word dat die beleid van afsonderlike kerke nie ’n rassistiese basis het nie, maar suiwer op die bedieningsbehoeftes van lidmate afgestem is.

Aan die ander kant is dit egter duidelik dat die beleid van die NGK in die verlede nie op die basis van taal en kultuur gebou is nie, maar ’n sterk rasse-komponent gehad het. Dit blyk daaruit dat daar ’n afsonderlike kerk vir die sogenaamde Kleurlinge gestig is, waarby taal geen rol kon gespeel het nie en die verskil in kultuur nie groot probleme sou veroorsaak het nie. Dit blyk ook uit die feit dat daar maar een kerk vir alle swart lidmate opgerig is, ondanks die feit dat daar groot taalverskille onder die swart lidmate voorkom, asook sterk kulturele verskille tussen die afsonderlike volke of stamme. En ten slotte blyk dit ook daaruit dat die NGK nooit oorweeg het om ’n afsonderlike NGK vir Engelssprekendes op te rig nie.

Die vraag of daar vir Portugeessprekendes ’n afsonderlike NGK gestig moet word, het dus die hele visie op die eenheid van die geïnstitueerde kerk opnuut onder die soeklig geplaas. Minstens sommige van die lede van die Sinode was van oortuiging dat die saak dus eers ondersoek moet word, voordat tot die vorming van so ’n aparte kerk toegestem word. Dit het beteken dat die hele beleid weer bekyk moet word, omdat dit die kerk onwaardig sou wees om tot die oprigting van so ’n eie kerk vir ’n betreklike klein groep lidmate toe te stem, net om aan sy beleid getrou te bly en aan die wêreld te bewys dat dit vir horn “nog nooit” om ras of kleur gegaan het nie. By sommige het die vreemde gevoel bestaan dat juis hierdie motief nie suiwer is nie, en uiteindelik niemand sal oortuig nie. Trouens, dit gaan tog nie daarom dat ander mense oortuig moet word van een of ander saak nie. Dit gaan om die vraag wat reg is volgens die beginsels waarby die kerk behoort te lewe. Daarom is daarop aangedring dat hierdie geleentheid benut moet word om opnuut te vra wat op grond van die Heilige Skrif en die gereformeerde belydenis en kerkreg die juiste weg is. So ’n nuwe, besinning kan ook betekenis hê vir die wyse waarop die eenheid van die NGK en sy sogenaamde afsonderlike “dogterkerke” verstaan en tot uitdrukking gebring moet word.

Daar is ongetwyfeld ’n groot gebied waaroor almal binne die NGK dit met mekaar eens is. Almal aanvaar dat die eenheid van die kerk volgens die Skrif van die allergrootste belang is, en dat dit nie net ’n gawe nie, maar ook ’n opgawe is. Almal aanvaar ook dat daar binne die kerk groot verskeidenheid voorkom, verskeidenheid van gawes, tale en kulture, volksaard en selfs geloofsbelewing. Die vraag waaroor dit egter gaan, is of hierdie verskeidenheid daarop moet uitloop dat afsonderlike kerke binne volksverband tot stand moet kom, wat outonoom langs mekaar bestaan, en of die waarheid van die eenheid van die kerk en die gereformeerde opvatting van kerkverband vereis dat daar gestreef moet word na die eenheid van ’n kerkverband wat die verskeidenheid nie ophef nie, maar omvat en so die gemeenskap van die heiliges op die beste wyse kan dien. Dit gaan hier om ’n vraag wat die welwese van die kerk raak. Die welwese van die kerk word egter die beste gedien as uitgegaan word van die wese van die kerk. Daarom is dit noodsaaklik om aandag te gee aan die Skrif, belydenis en gereformeerde kerkreg, om te sien wat die Skrif ons leer oor die wese van die kerk, en watter konklusies in die gereformeerde leer en kerkreg daaruit getrek is.

  1. Die aard van die eenheid van die kerk

Die één kerk waarvan die Nuwe Testament praat, is die één liggaam van Christus. Ef. 4:4-5 leer duidelik dat daar net één liggaam van Christus is, want daar is immers net één Gees wat die kinders van God wederbaar en self die band van eenheid tussen hulle is, en net één God en Vader van almal wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Die eenheid van die kerk hang saam met die eenheid van God self. God kan nie meer as een volk hê nie (1 Petr. 2:10), net soos Christus nie meer as een liggaam ken hê nie (vgl. 1 Kor. 12:12) en die Heilige Gees nie meer as een tempel ken hê nie (1 Kor. 3:16-17). Daarom is dit vir die Nuwe Testament iets “vanselfsprekends” dat daar slegs één kerk van Christus kan wees, gebou op die fondament van die apostels en profete, waarvan Jesus Christus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here – en in die gebou is al die gelowiges saam opgebou as ’n huis waarin God deur sy Gees woon (Ef. 2:20-22).

Dit spreek vanself dat hierdie eenheid van die kerk ’n geestelike saak is, dit wil sê die werk van die Heilige Gees. Beteken dit nou egter dat dit net ’n onsigbare soort eenheid is en dat dit geen konkrete betekenis het vir die wyse waarop Christene onderling hulle eenheid sigbaar maak en uitleef nie? Om dié vraag te stel, is om dit te beantwoord: die eenheid van die kerk is ’n gegewe eenheid in Christus, maar daarom dring die Heilige Gees ook tot die sigbare en tasbare waarmaking van daardie eenheid in die onderlinge liefde, gemeenskap en diens, eensgesindheid, onderlinge aanvaarding, die dra van mekaar se laste, die toesig oor mekaar se wandel, ens. Volgens die Heidelbergse Kategismus, antwoord 55, beteken die gemeenskap van die heiliges dat die lede van Christus, almal saam en elkeen afsonderlik, gemeenskap met Christus het en deel het aan al sy skatte en gawes, sodat hulle daarom verplig is om elkeen sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. In die gemeenskap van die heiliges is die eenheid van die kerk ’n geleefde eenheid. Die lede van die liggaam “moet gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor. 12:25). Die lede vorm saam die een huisgesin van die geloof (Ef. 2:19), en moet deel in mekaar se lyding en vreugde (1 Kor. 12:26). Om dit te kan doen, moet hulle mekaar se node ken, met mekaar kontak hê, by mekaar betrokke wees, ens.

Enige vorm van verdeeldheid word daarom in die Nuwe Testament ten sterkste veroordeel. Al is die eenheid van die kerk in Christus ’n gegewe werklikheid, kan dit tot skande gemaak word deur partyskappe (vgl. Paulus se vraag in 1 Kor. 1:13 – “Is Christus verdeeld?”), deur afval van die ware evangelie, deur selfverheffing (1 Kor. 12 e v), liefdeloosheid, jaloesie en twis en die onwil om mekaar in liefde te verdra (Ef. 4:2). Die liefde moet in die eenheid van die kerk sigbaar word, anders, hoe sal die wêreld weet dat die gelowiges dissipels van Christus is (Joh. 13:34)?

  1. Kerkverband as uiting van die eenheid van die kerk

Wat tot nou toe gesê is, het uit die aard van die saak in eerste instansie konkrete betekenis vir lidmate van die plaaslike kerk. Dit is egter duidelik dat dit implikasies het vir die universele kerk. Die begrip “kerke” slaan in die Nuwe Testament dikwels op die plaaslike kerk, maar ook op die algemene of universele kerk wat verteenwoordig word in die plaaslike kerk (1 Kor. 10:32; 11:22; 12:28; Hand. 20:28; 1 Tim. 3:5, 15), of op die een, algemene kerk van Christus (Ef. 1:22; 3:10, 21; 5:22-32; Kol. 1:18, 21), of soms ook op die kerk in ’n bepaalde streek (Hand. 5:11; 8:1, 3; Gal. 1:13; 1 Kor. 15:9; Fil. 3:16), of selfs ook op die kerk in ’n bepaalde land (Hand. 9:31). Wanneer die begrip kerke in die meervoud gebruik word, slaan dit altyd op die plaaslike kerke (soos die NAB dit dan ook tereg vertaal met “gemeentes”). Die Nuwe Testament ken nie ’n veelheid van kerke nie (vgl. Ras, volk en nasievoortaan RVN – 14, 4), maar slegs plaaslike kerke wat die openbaring is van die één kerk van Christus.

Artikels 27-29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) is besonder duidelik oor die gereformeerde kerkbegrip. Artikel 27 weet maar van één kerk van Christus, die één, heilige, katolieke kerk. Die heil in Christus konstitueer die kerk: die geloof, die wassing in die bloed van Christus, die heiliging en beseëling deur die Heilige Gees. Hierdie kerk het bestaan van die begin van die wêreld af en sal daar wees tot die einde, selfs al is dit soms klein en lyk dit vir mense asof dit tot niet gegaan het. Dit gaan daarby beslis nie om ’n onsigbare kerk nie, maar om die kerk as historiese werklikheid wat deur die eeue bestaan. Die katolisiteit van hierdie kerk kom daarin uit dat dit nie bepaal word deur ’n sekere plek of sekere persone nie. Vir hierdie kerk is niks anders konstitutief nie, as net die werk van die Heilige Gees wat die lede van hierdie kerk saamvoeg deur die krag van die geloof.

Van hierdie kerk sê artikel 28 nou dat ’n mens verplig is om jou daarby te voeg, want dit is hierdie één katolieke kerk wat homself oral en op alle plekke op aarde openbaar (in plaaslike kerke dus). Die ware kerk is so sigbaar, dat artikel 29 bepaal wat die kenmerke van die ware kerk is en artikels 30-32 voorskrifte gee oor die regering en orde van die kerk. Dit is duidelik dat die NGB op voetspoor van Calvyn dink vanuit die situasie van die een ongedeelde sigbare kerk van Christus wat moet staan teenoor die valse kerk en die sektes. Calvyn het homself onvermoeid beywer vir die bewaring van die eenheid van die Reformatoriese kerk, met volle erkenning van die verskille na gelang van plaaslike omstandighede in die verskillende lande.

Maar hoe het die Gereformeerdes gemeen dat daar aan hierdie sigbare eenheid van die kerk uitdrukking gegee moet word? Hulle opvatting was anders as die van die Rooms-Katolieke Kerk met sy idee van een hiërargiese instituut onder die pous as sigbare verteenwoordiger van Christus op aarde. Die Protestantisme dink nie aan die kerk in die eerste instansie as heilsinstituut nie, maar van onder af, as gemeenskap van gelowiges wat wêreldwyd versprei is onder die een Hoof, Christus Jesus self. Daarom het die sigbare eenheid van die kerk vir hulle ook nie eksklusief betrekking op institutêre eenheid nie, maar is dit basies ’n organiese vorm van eenheid. Die latere onderskeiding tussen kerk as organisme en as instituut het wel gebrekkige kante, maar ons kan dit hier tog gebruik om duidelik te maak dat daar ’n gestalte van die sigbare eenheid van die kerk is wat te make het met die onderlinge hulp en diens, liefde en sorg van gelowiges op ’n ongeorganiseerde of ook nie-kerklik georganiseerde wyse, waarin die organiese eenheid van die kerk oor alle grense heen ’n bepaalde uitdrukking vind.

 

In die Nuwe Testament vind ons voorbeelde van hulp van gemeentes aan mekaar, van die bereidheid om Christene van ander plekke aan huis te ontvang, van ’n kollekte vir die arm heiliges in Jerusalem, ens. En ons kan sê dat die eenheid van die kerk ook wêreldwyd sigbaar word in die gemeenskaplike geloof, die gemeenskaplike doop, die gemeenskaplike optrede teen sonde en ongeregtigheid, ens. Daar is iets soos ’n “organiese” eenheid van die kerk wat sigbare vorme aanneem in dade van liefde vir mekaar, die gemeenskaplike liefde vir Christus en die handhawing van die suiwer evangelie.

Dit is nou egter kenmerkend van die Gereformeerdes dat hulle dit nie daarby laat bly het nie, maar dat hulle daarvan oortuig was dat hierdie eenheid ook sover moontlik institutêre uitdrukking moet vind, juis om die organiese eenheid te dien en te beskerm. Die Gereformeerdes dink dan vanuit die plaaslike kerk as ’n komplete kerk. In die plaaslike kerk behoort alle gelowiges saamgebind te word rondom Woord en sakramente en die tug. Hier funksioneer die ampte wat Christus vir sy kerk ingestel het. Die plaaslike kerk is ’n komplete kerk. As daar abnormale omstandighede is waardeur die plaaslike kerk nie met ander plaaslike kerke in kerkverband kan tree nie, word so ’n kerk nie minder kerk nie, want kerkverband as sodanig behoort nie tot die wese van kerk-wees nie. Dit behoort egter wel tot die welwese van die kerk, want dit dien die eenheid van die kerk, is ’n wyse waarop die eenheid daarvan sigbaar word. Dit struktureer en stimuleer die onderlinge sorg wat gelowiges vir mekaar moet bied. Daarom is kerkverband selfs volgens goddelike reg noodsaaklik, “opdat in het kerkverband de kerken elkander zouden steunen, wederkerig toezicht zouden oefenen, en alles doen wat tot de rechte institutie der kerken, voor de vrijheid der gemeente, voor de handhaving van de belijdenis, orde en tucht in de kerken nodig is” (Bouwman 1934:12).

Kerkverband is dus ’n vorm van die gemeenskap van die heiliges oor die grease van die plaaslike kerk heen. Dit bied ’n weg om die belange van ander gelowiges te dien, nie net in dieselfde stad nie, maar ook in dieselfde streek, dieselfde land en in beginsel wêreldwyd. Die wortels van die kerkverband is in die Skrif self gegee, nie slegs in die eenheid in Christus nie, maar ook in die sorg van die apostels vir die bewaring van die eenheid van al die gemeentes, in die felt dat die gemeentes mekaar se lidmate oor en weer ontvang en versorg, en in ’n gebeurtenis soos die apostelkonvent in Jerusalem (Hand. 15), waarin die grondtrekke van die kerkverband duidelik sigbaar word (Jansen 1952:134 e v; Bouwman 1937:127 e v). Binne gereformeerde kringe was daar hieroor nooit enige verskil nie.

Die “meerdere vergaderinge” is in die gereformeerde kerkreg nie “hare bestuursliggame” wat ’n gesentraliseerde mag verteenwoordig nie, maar gesamentlike vergaderinge van verteenwoordigers van meer kerke. Dit gee uitdrukking aan die eenheid van die kerk deur eers nabygeleë gemeentes saam to snoer (klassis of ring), dan gemeentes wat verder van mekaar of geleë is (sinodes), vervolgens al die Christelike gemeentes binne een land (algemene sinode) en uiteindelik ook oor die landsgrense heen (ekumeniese sinode), “want dit is een Christelike kerk wat in verskillende lande tot openbaring kom onder verskillende nasies” (Snyman 1962).

Uiteraard kom die eenheid van die kerk nie net in die kerkverband tot uitdrukking nie, maar die gereformeerde visie op die kerkverband as gegrond op “goddelike reg” is ’n baie belangrike vorm en instrument van die sigbare eenheid van die kerk.

  1. Die pluriformiteit van die kerk

Die Reformatoriese ideaal van die eenheid van die kerk is nie verwesenlik nie. Politieke faktore het meegebring dat die Reformatoriese kerke in die verskillende lande afsonderlik georganiseer is, dikwels as landskerke (in Duitsland volgens die beginsel: “Cuius regio, eius religio”) en dikwels ook as staatskerke (Switserland, Engeland, Nederland, ens). In die agtiende eeu verswak die kerklike besef onder invloed van Rasionalisme en Piëtisme, en teen die negentiende eeu is die opvatting in die liberale teologie taamlik algemeen dat die eenheid van die kerk onsigbaar is, en dat daaraan niks afbreuk gedoen word as gelykgesindes en eendersdenkendes hulle eie kerke stig nie. Vir die Reformatoriese opvatting van die kerk as ’n historiese werklikheid van die volk van God wat deur die eeue heen onder stryd, deur deformasie en reformasie heen bewaar word en waarmee die eenheid bewaar moet word, is daar geen begrip meer nie. Die negentiende eeu word die eeu van die groot opsplitsing van die kerk in talle kerke en denominasies, sonder gevoel van pyn, en in die Engelssprekende wêreld, veral in Amerika, skyn die soort opvatting nog steeds kragtig te leef.

Mettertyd sien ons ook pogings om teologies te verdedig dat die ware eenheid van die kerk nie deur die vermenigvuldiging van kerklike institute bedreig word nie; ja, dat sodanige vermenigvuldiging die wil van God is en noodsaaklik is vir die ontplooiing van die volle rykdom van die kerk. So vind ons in die Anglikaanse teologie die sogenaamde stam-en-takke-teorie (“branch theory”), in Lutherse kringe die idee van volkskerke (“Volkschristianisierung”) en in Nederland die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper.

In al hierdie teorieë word daar rekening gehou met die element van verskeidenheid wat noodwendig binne die kerk voorkom vanweë die bestaan van verskille in taal, kultuur, volksaard, geloofsbelewing en geloofsoortuiging. Behalwe waar dit verskille in geloofsoortuiging betref, het die kerk deur die eeue verskeidenheid nie as voldoende grond vir die totstandkoming van aparte kerke beskou nie. In die Katolieke Kerk is die eenheid van die kerk selfs op sodanige wyse gehandhaaf, dat daar maar een taal in die kerk erken is, naamlik Latyn. Die Reformasie het aan die volkstaal sy volle ruimte teruggegee in die kerk, maar dit het geensins beteken dat daar op grond daarvan tot die gevolgtrekking gekom is dat daar dus ook aparte kerke vir mense met verskillende tale moet bestaan nie. By name Calvyn het hom daarvoor beywer dat die eenheid van die Protestantse kerk in alle lande bewaar moes word (Nijenhuis 1959). Binne hierdie een kerk is daar ruimte vir verskille in taal en kultuur, godsdienstige belewing en verskille wat nie die wese van die belydenis raak nie. Waar belydenisverskille intree wat die hart van die evangelie aantas, kan daar geen sprake meer wees van pluriforme gestaltes van die een ware kerk nie: daar gaan dit om die verskil tussen die ware en die valse kerk. Dit is die posisie van Calvyn en ook van die NGB.

Die drie genoemde teorieë het dit egter gemeenskaplik dat hulle die sigbare eenheid van die kerk prysgee en daarvan uitgaan dat die eenheid van die kerk nie verbreek word as daar ’n veelheid van kerke naas mekaar bestaan nie. Hulle het dit ook gemeenskaplik met mekaar dat hulle nie ’n beroep op die Skrif kan doen vir hierdie idee nie, maar dit op die historiese verloop van sake baseer. Die geskiedenis van die verbrokkeling van die eenheid van die kerk word normatief gemaak en op een of ander manier geregverdig. By Kuyper geskied dit deurdat by uitgaan van die verskeidenheid van die skepping en daaruit die konklusie trek dat mense noodwendig ’n verskeidenheid van geloofsbelewing en geloofsoortuiging sal vertoon (1904: 228-234; 278). Dit loop uit op ’n pluriformiteit van kerke, en Kuyper gaan selfs so ver om dit te prys dat Christene wat weet wat hulle wil en weet wat hulle bely “zich met volkomen autonomie” verenig tot eie kerke (1896: 29). In sulke uitsprake kom dit duidelik uit in hoe ’n mate Kuyper ’n kind van die negentiende eeu was. In sy stryd teen ’n liberale kerk tree die hoë waarde van die eenheid van die kerk vir hom op die agtergrond, en in sy beklemtoning van die veelvormigheid van die skepping bepleit by ’n veelheid van kerke wat langs mekaar bestaan, asof die kerk sy lewenswet aan die skepping ontleen. Dit is niks anders as ’n vorm van natuurlike teologie nie.

Die gevolg is dat Kuyper die Reformatore en die NGB kritiseer en van die beeld van die kerk soos die Nuwe Testament dit teken, sê dat dit nog te amorf was dat dit vir ons ’n normatiewe voorbeeld ken wees. In die grereformeerde (sic) tradisie is daar egter anders geredeneer. Dit blyk baie duidelik uit die gereformeerde kerkreg, waarin die beeld van die kerk soos dit in die NGB geteken word, gestand gedoen is.

  1. Volkeverskeidenheid in die kerk

In die Dordtse Kerkorde word daar ten volle rekening gehou met die verskille in taal tussen die Nederlanders en die Franse, maar dit beteken nie dat vir hulle twee aparte kerke gestig word nie. Hulle word as lidmate van die een Gereformeerde Kerk gesien. Daar word wel toestemming verleen dat daar afsonderlike taalgemeentes sal wees, selfs afsonderlike klassisse en partikuliere sinodes, maar op die vlak van die generale sinode word die eenheid van die kerkverband kragtig bewaar (art 51). Op die Sinode van Westminster word die konsep van die klassis verdedig deur te redeneer dat daar in Jerusalem waarskynlik ’n gemeente van Griekssprekende en Arameessprekende Christene was wat in een kerkvergadering (die presbytery) saamgebind was (Form of Presbyterial Church-Government, 1645). Die ouer gereformeerde tradisie het nie daaraan getwyfel dat die verskeidenheid of pluriformiteit ’n pluriformiteit binne die een kerk moet wees nie. Die idee van die vermenigvuldiging van selfstandige, outonome kerke om vir elke volk of groep sy eie kerk te gee, is van ’n later datum.

In ons land is die sendingbeleid van die NGK diep beïnvloed deur die buitelandse sendinggenootskaplike metode van die negentiende eeu, wat met sendingstasies gewerk het en die vorming van selfstandige kerke op die oog gehad het. Veral die Duitse invloed is hier van groot gewig. By die Lutherane was daar altyd ’n sterk verbinding tussen kerk en volk, en in die negentiende eeu is dit in hulle sendingbeleid deurslaggewend (Hoekendijk [s a]: 58 e v). Die persone wat veral vormend ingewerk het op die formulering van die sendingbeleid van die NGK, soos by name J du Plessis en GBA Gerdener, het hulle deur die Duitse Sendingwetenskap laat lei. Dit kon pragtig aansluit by die sosiale patroon van Suid-Afrika waarin die klasse- en rassegevoel sedert die negentiende eeu reeds in die rigting van afsonderlikheid gedruk het (vgl. die bekende besluit van 1857). Toe die teologie van Kuyper sedert die einde van die twintigerjare in Suid-Afrika, en spesifiek in die NGK ’n groter rol begin speel het, was dit net natuurlik dat argumente wat aan sy pluriformiteitsleer ontleen is, goed gebruik kon word om te verdedig dat “die skepping die herskepping struktureer” en dat daar in die formasie van die kerk dus volgens die wil van God aparte kerke vir aparte bevolkingsgroepe moet bestaan.

In RVN speel die Kuyperiaanse terminologie en wyse van redenering dan ook ’n groot rol. Daar is wel ’n groot hoeveelheid eksegetiese materiaal in hierdie rapport byeengebring, en daaruit sou eintlik ander gevolgtrekkings gemaak moet word oor die eenheid van die kerk as wat by Kyper (sic) se pluriformiteitsleer sou inpas. Inderdaad kom dit ook tot sulke uitsprake as dat die pluriformiteit van kerke wat met die verskeidenheid van volkere kan saamhang, ’n verskeidenheid binne dieselfde kerk moet wees (RVN 34). In artikel 58 aanvaar dit sells die siening wet altyd deur professor T N Hanekom bepleit is, dat die afsonderlike “kerke” eintlik nie werklik afsonderlike “kerke” is nie, maar net afsonderlike “kerkverbande” binne die een NGK, en word veel klem gelê op die “wesentlike eenheid” wat tussen die afsonderlike kerkverbande vir die afsonderlike volke bestaan. Maar as dit alles gesê en geformuleer is, bly dit uiteindelik tog maar by wat in artikel 29 staan: “Daarom kan ‘n verskeidenheid van volke ook ‘n verskeidenheid van inheemse kerke tot gevolg hê.”

Die dokument RVN bevat ’n diep innerlike teenstrydigheid. Enersyds wil dit op grond van die Skrif die eenheid van die kerk van Christus oor die grense van volk en kultuur heen vashou, maar aan die ander kant wil dit nie die knoop deurhak en praat van ’n verskeidenheid binne die één gekonstitueerde kerk nie. Op grond van die verskeidenheid word daar tog maar tot geskeidenheid gekonkludeer. Die boodskap van die Skrif oor die eenheid van die kerk word met respek aangehaal, maar as die beslissing moet val oor die konsekwensies wat daaruit vir die situasie van die Nederduits Gereformeerde familie van kerke getrek moet word, dan word allerlei apologetiese argumente gebruik om duidelik te maak dat dit “nie nodig” is om één kerkverband te hê nie (art 58). Dit is baie moeilik om ’n ander konklusie daaruit te trek, as dat nie-teologiese faktore uiteindelik ’n geweldige remming op die standpunt van die NGK uitgeoefen het. Die wil om veilig by die eie groep te wees en die vrees om op kerklike terrein oorheers te word deur nie-blanke Christene wat met hulle groter getalle noodwendig ’n beslissende invloed in ’n gemeenskaplike Algemene Sinode sou hê, tel waarskynlik baie meer mee as wat verdedigers van die idee van afsonderlike kerke sou wil toegee (of miskien self besef).

Die prys wat die NGK egter daarvoor moet betaal, is dat hy in ’n groot mate gemeenskapsarm geword het. Die afsonderlike kerke bring mee dat wit Christene min weet van die lewe en probleme van die Christene uit die ander bevolkingsgroepe. Hulle word nooit gekonfronteer met die werklike wêreld van hulle medebroeders en -susters aan die ander kant van die kleurskeidslyn nie. wat dikwels ook die welvaartslyn is. Die gemeenskap van die heiliges word wel elke Sondag bely, maar eintlik baie min belewe, omdat die strukture van kerklike geskeidenheid dit prakties onmoontlik maak om die medebroeder en -suster teen te kom in ’n kerklike atmosfeer. Die kontak met ander Christene is eintlik net ’n kontak binne die strukture van arbeid en ekonomie, nooit binne die konteks van die gemeente van Christus nie. Geen wonder dat sporadiese kontakte wat kerklik gereël of “toegelaat” word, as kunsmatig en betekenisloos ervaar word nie. Die gebrek aan egte Christelike gemeenskap binne die gemeentes van die NGK is nie sonder verband met die onwil tot Christelike en kerklike gemeenskap oor die grense van volk en ras heen nie. Dit is maar deel van die geestelike armoede wet saamhang met die hele afsonderlikheidsindroom wat by baie lidmate in die kerk ’n ontoelaatbare groot rol speel.

  1. ‘n Afsonderlike Portugese kerk?

In die lig hiervan is dit nie maar vanselfsprekend dat die NGK aan homself getrou moet bly en ’n afsonderlike kerk vir Portugeessprekendes in die lewe moet roep nie. Afgesien daarvan dat dit ’n vraag is of dit ooit wys kan wees om so ’n klein groepie Christene op te las met al die kostes en probleme daarvan om ’n selfstandige kerklike masjinerie vir hulleself in die lewe te roep; afgesien ook daarvan of dit verstandig is om mekaar so “los te laat” om maar alleen as ’n klein klompie Christene ’n eie weg te gaan, sonder die warmte van die gemeenskap wat die groter kerkverband moes gebied het, is dit tog duidelik dat dit nie die Skriftuurlike of gereformeerde weg is nie.

Liewer as om op hierdie weg voort te gaan, moet die NGK eers die pas markeer en kyk of hy nie liewer moet probeer om die bande tussen hom en die reeds bestaande afsonderlike kerke nouer getrek te kry nie. Miskien ontwikkel daar ’n struktuur wat dit moontlik maak om ook aan die Portugeessprekendes, soos aan die lidmate van alle bestaande taalgroepe, die vryheid te bied om hulleself ten volle in hulle eie taal en kultuur uit te leef, sonder dat dit beteken dat die strukturele eenheid van die één kerk van Christus prysgegee hoef te word. Laat hulle solank maar hulle eie gemeentes en ringe hê, maar moenie die band met die Algemene Sinode deursny nie, en moenie nog ’n afsonderlike kerk in die lewe roep nie. Dit is tyd dat ons begin besef dat afsonderlikheid alleen goed kan funksioneer, as die band van die gemeenskap met al die ander bewaar bly.

 

LITERATUUR

Bouwman, H 1934. Gereformeerd Kerkrecht II, Kampen.

  • Voetius over het gezag der Synoden. Amsterdam.

Hoekendijk, J C [s a] Kerk en volk in de Duitse Zending-wetenschap, Bijdragen tot de Zendingswetenschap I. Plek van uitgawe nie vermeld.

Jansen, Joh 1952. Korte verklaring van de Kerkorde. 3e druk. Kampen.

Kuyper, A 1896. Eenvormigheid, de vloek van het modern leve. Amsterdam.

  • De Gemeene Gratie III. Amsterdam-Pretoria.

Nijenhuis, W 1959. Calvinus Oecumenicus. ‘s-Gravenhage.

NG Kerk: Verslag uitgegee in opdrag van die Algemene Sinode 1975. Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif. Kaapstad: N G Kerk-uitgewers.

Snyman, WJ 1962. “Die eenheid van die kerk.” Die Kerkblad, 4 April.