SELFSUGTIGE BEGEERTES
Die Burger, 7 Junie 1986
Wanneer die Bybel die wortel van die kwaad in ons wil aanwys, word die begrip “slegte begeertes” meermale gebruik. Dit is uiters interessant om ’n konkordansie op die Bybel te raadpleeg en te sien hoeveel keer na ons begeertes verwys word as die mag in die mens wat die wil van God teenstaan en ’n eie koers, ’n slegte koers, wil inslaan.
Die begeertes kom uit die mens se duistere hart op en is in staat om sy hele lewe te besmet. Volgens Lukas 8:14 vergelyk Christus die begeertes van die mens se sondige hart met die dorings wat die goeie saad wat gesaai is, verstik. Dit bring die mens in slawerny (Titus 3:3), is die bron van innerlike onvrede en stel die mens in ’n situasie van stryd teenoor God en sy medemense (Jakobus 4:1–4).
Dit is geen wonder nie dat die laaste van die Tien Gebooie, begeerte verbied. Die slegte begeertes van die mens se hart staan teenoor die liefde tot God en die liefde tot die naaste wat die bedoeling van die hele wet van God is. Dit is die slegte begeertes wat ons teenoor God se wil te staan laat kom, wat ons ontevrede maak met Gods beskikking oor ons lewe of die weg waarlangs Hy ons lei. Dit was bepaald bose begeerte wat agter die val van Lucifer, en ook agter die van Adam en Eva gesit het.
Net so is dit bose begeertes wat ons met afguns en jaloesie teenoor ons naaste vervul en uiteindelik oorgaan in dade van liefdeloosheid en haat teenoor hom. Jakobus vra in Jakobus 4 – met reg – waar al die rusies, bakleiery en moord onder die mense vandaan kom, en dan antwoord hy dat dit voortspruit uit die selfsugtige begeertes wat in ons woed.
Dit is onmoontlik dat ons in hierdie lewe reeds ten volle verlos kan word van alle bose begeertes, want dit is gegee met ons gevalle bestaan. Dit is die erfsmet wat ons aankleef. Dit is wel saam met Christus gekruisig en is daarom ons verlede wat eintlik agter ons lê. In die praktyk van ons aardse bestaan is dit egter springlewendig en word ons elke dag daartoe opgeroep om dit in die geloof en in die krag van die Heilige Gees opnuut te kruisig.
Dit kan egter alleen gebeur as ons van hierdie bose begeertes in ons lewe bewus is en met onsself eerlik is. Dan kan ons die diepte van die kwaad in ons harte waarneem, dit voor God bely, en in gebrokenheid en verbryseling van Hom die voortdurende vergiffenis en oorwinning van ons selfsugtige begeertes ontvang. Dit is die heiliges wat hulle sondes ken en bely, nie die onverskilliges nie. En wie sy sondes bely, word ook daarvan bevry. – WDJ