God kan ʼn wending bring

GOD KAN ʼn WENDING BRING
Die Burger, 14 Junie 1986

Die situasie in ons land is sorgwekkend. Die ergste is dat ’n mens geslaan word met ’n gevoel van magteloosheid. Wat kan ons as enkelinge aan die situasie doen?

Die een ding wat ons almal in sulke omstandighede kan doen, is om te bid. Soos ons in ons hele lewe elke ding wat vir ons swaar is, na God moet bring, so moet ons dit ook hiermee doen.

Daar, voor die aangesig van God, moet ons ons verneder en verootmoedig. Ons moet onthou dat ons in die eerste instansie met God te make het en eers daarna met die mense en die wêreld. Hy wat alles in sy hande het, kon ook hierdie moeilike tyd van ons afgeweer het. Maar Hy het nie. Hy vind dit goed dat dit oor ons kom. Hy bring hierdie gerig oor ons. Hy laat toe dat die hele wêreld ons veroordeel en verwerp, en dat ons land innerlik verskeur word deur haat en woede, met al die donker vooruitsigte wat dit inhou.

Waarom doen God dit? Van een ding kan ons verseker wees, en dit is dat God ons nie in die noute bring omdat Hy ons haat of wil vernietig nie. God gun ons altyd die lewe. Hy wil altyd vir ons die goeie. Selfs in sy gerig is sy doel nie om ons te verstoot nie, maar om ons te reinig, om ons tot bekering te bring, om ons uit te nooi om deur sy genade te breek met wat verkeerd was, om sy vergiffenis te ontvang en – dan ’n nuwe begin te maak.

Ons moet begin deur te vra wat God wil hê dat ons moet doen. Dit is die allerbelangrikste ding vir ons. Ons moet eers vra wat God by ons wil verander voordat ons Hom vra om ons lot te verander.

Dit is vir God maklik om ’n wending te bring en die kwaad van ons af te weer. Dit mag egter nie al wees wat ons van God vra nie. Dan sou ons godsdiens nie beter wees as die van die heidene nie. Ook hulle bid dat hul gode hulle moet help, beskerm, seën en die goeie moet laat geniet. Dikwels is ons gebed op dieselfde vlak, want ons begeer van God bewaring van ons lewe en welvaart, maar nie die vernuwing van ons lewe nie; vryheid van Gods straf en gerig, maar nie vryheid van die sonde nie; die instandhouding van ons republiek, maar nie die koms van die koninkryk van God nie.

God kan ’n wending bring. Hy kan ook vandag nog wonders doen. Maar dit is deel van die baie dinge wat God “byvoeg” vir wie die koninkryk en die wil van God soek. Laat ons God smeek om ons in sy wil te bring, en oor ons ’n weg van vrede te beskik. – WDJ