Iets vir die aarde

IETS VIR DIE AARDE
Die Burger, 21 Junie 1986

Die evangelie is nie net iets wat met die hemel te doen het nie; dit is bepaald ook iets vir die aarde. Maar die besondere van die evangelie is dat dit alleen vir die aarde betekenis het as dit ons hart op die hemel gerig het.

In ’n platvloerse propaganda teen die Christelike geloof word dit opium vir en van die volk genoem. Daarmee word bedoel dat die evangelie van die hemelse heerlikheid die rol van ’n pynstiller vervul om die armes en verdruktes met hul lot te versoen en hulle magteloos en onwillig maak om self hul aardse lot in hul hande te neem en die toestand van vervreemding waarin hulle verkeer, te beëindig.

So gesien, het die evangelie dan net ’n negatiewe betekenis vir die aarde, en dit is net begryplik dat die Marxisme alle godsdiens bestry as iets wat vir die menslike geslag gevaarlik is. Wat hulle egter miskyk, is dat die hemel nie in die Marxistiese ideologie heeltemal verdwyn nie. Dit word net vervang deur ’n ander hemel, ’n hemel op aarde, die utopie wat as ideaal voorgehou word, wanneer die klaslose samelewing aanbreek en die nuwe mens van die sosialisme op die toneel verskyn.

Dit is egter ’n soort hemel wat vir die mens wat vandag lewe, maar baie min belofte inhou. Hy word gevra om te leef en te stry vir ’n ideaal waarvoor hy dikwels ontsettend veel moet opoffer, maar daardie ideaal betref die ontwikkeling van die menslike geslag in die toekoms.

Vir hom persoonlik hou dit geen belofte vir die toekoms in nie. Vir die verlossing van sy sonde en skuld het dit geen boodskap nie. Van die oorwinning oor die dood weet dit niks. Die hemel wat in die vooruitsig gestel word, is ’n materialistiese hemel, en hy self word in die materialisme opgelos tot ’n ratjie in die groot geheel, sonder God en sonder hoop op die ewigheid.

Die evangelie daarenteen begin juis by hierdie laaste. Dit wil die mens in die reine bring met God deur hom tot versoening met God en sy medemense te lei. Daarby bied dit aan hom die hoop op die ewige gemeenskap met God, anderkant die werklikhede van graf en dood. Dit verseker hom dat die lewe van ons wat in Christus glo, veilig met Christus verborge is in God.

Maar dan wys dit hom terug na die aarde. Juis op grond van die hoop op die hemelse heerlikheid roep dit hom op om anders te lewe. Die vastheid van sy ewige bestemming maak hom juis vry vir die aardse lewe en die stryd vir die geregtigheid. Omdat hy nie self meer sy hemel hoef te probeer uitwerk nie, kom sy hande los vir die aarde.

So is Christenskap ook iets vir hierdie aarde, of dit is geen ware Christenskap nie. Dit is ons boodskap. Hoe jammer dat ons dit dikwels so sleg demonstreer. – WDJ