ONS IS BROOS
Die Burger, 12 Julie 1986
Ondanks die skyn van krag en manhaftigheid wat ons dikwels in stand hou, bly ’n mens geestelik en psigies tog maar broos en breekbaar. Die ontstellende groot aantal mense wat sielkundige en psigiatriese hulp moet ontvang, die wanhoop en frustrasie waarvan baie van ons woorde en dade getuig, en die ontsetting wat spreek uit die gevalle van selfmoord waardeur ons telkens weer geskok word, kan hiervan getuig.
Klaarblyklik is die druk van die moderne samelewing so groot, dat ons maklik daaronder kan meegee. Tog is die broosheid van die mens iets wat hy in alle eeue met hom saamgedra het. Die Bybel ken nie die moderne terme waarin ons daaroor praat nie. Die Bybel ken egter die mens deur en deur, en laat hom in al sy breekbaarheid en broosheid sien.
Die Psalms is vol van die sugte van die worstelende, vresende en bekommerde mens. Die boek Job vertel die verhaal van ’n mens se stryd met God en met die lyding wat hom toegemeet is. Wie sal tog die mens ooit kan verstaan? Ons is so ingewikkeld, so onberekenbaar, so geneig om alles skeef te sien, om ons perspektief op die dinge te verloor, om God los te laat in ons denke, en om die afgrond af te stort.
Dink maar aan die profeet Elia in al sy manmoedigheid. Hy kon voor Agab staan en die oordeel van God aankondig, hy kon man-alleen die stryd aanbied teen die hele horde van die priesters van Baal. Hy kon in die geloof groot dinge van God vra en dit ontvang. Maar daar kom ’n moment dat hy verkrummel onder druk en vrees, en in moedeloosheid bid dat God sy lewe van hom moet wegneem. Dit lyk dan net asof die God wat hom altyd bygestaan het, uit sy gesigsveld verdwyn.
Is dit dan vreemd dat baie van ons ook ons tye van insinking en moedeloosheid ken? Dit lyk soms net asof alles vir ons verkeerd loop. Die een ding na die ander gebeur wat ons pynlik tref. Miskien kom dit nog bo-op ongelukkige situasies waarmee ons al oor jare heen moet saamlewe. Dan kan selfs iets kleins die laaste strooi wees wat ons deursettingsvermoë knak, sodat ons onder die druk meegee en in wanhoop wil versink.
Tog mag ons nie vergeet dat dit sonde is nie. Hoe verklaarbaar dit ook is, kan ons tog nie daarvan wegkom dat daar ’n groot stuk ongeloof en wantroue in God agter ons wanhoop sit nie. Dit is nie sonde dat ons broos en breekbaar is nie, maar dit is sonde as ons daaraan toegee en nie in God die geborgenheid vind wat ons teen disintegrasie kan bewaar nie.
Ook Jesus worstel in Getsémané in menslike swakheid met die onafwendbare lydensbeker, en aan die kruis roep by die groot waaromvraag uit. Ook Hy was broos as mens en is daarin versoek. Maar Hy het die geloof aan God vasgehou. En deur die krag van sy Gees is dit ook vir ons moontlik om dit te doen. – WDJ