’n Vlugbeweging

’N VLUGBEWEGING
Die Burger, 26 Julie 1986

Baie Christene is onwillig om die volle konsekwensies van hul geloof te aanvaar. Teoreties stem hulle in met alles wat die Bybel ons leer oor die verlossing as ’n bevryding van die skuld en die mag van ons sonde, sodat ons voortaan in liefde tot God en ons naaste moet lewe. As dit egter by die praktyk kom, openbaar hulle skielik allerlei weerstande.

Dit kom veral na vore rondom die eis van die naasteliefde, die diens aan die naaste, die geregtigheid en barmhartigheid teenoor die naaste. Die hele Bybel is vol van die gebod van God op hierdie terrein. Trouens, die Bybel maak dit baie duidelik dat ons liefde tot God sy egtheid eers daarin bewys dat dit die naaste omvat. Wie sy naaste nie liefhet nie, sê Johannes, het God ook nie lief nie. Wie meen dat hy God dien, sê Jakobus, maar verbyloop aan die nood van sy naaste, bedrieg homself.

Tog probeer baie Christene hierdie twee dinge wat God saamgevoeg het, van mekaar losmaak. Hulle doen dit deur alle aksent te lê op die liefde tot God as die primêre saak waarom dit gaan, en terselfdertyd die liefde tot die naaste as van ’n laer orde en minder belang voor te hou. Met ’n hoë pretensie van teologiese suiwerheid trek hulle te velde teen die hedendaagse humanisme wat volgens hulle by mede-Christene voorkom wat gedurig net oor die naasteliefde praat. En soos die Fariseër van ouds dank hulle die Here dat hulle ten minste darem nie so is soos hierdie ander Christene wat so onsuiwer is nie.

Intussen moet ’n mens tog vra of sulke mense werklik eerlik is. In baie gevalle is hulle nie. Hulle pretensie van teologiese suiwerheid is dikwels ’n vlugbeweging waarin hulle probeer wegkom van die konkrete gehoorsaamheid aan die wil van God.

Hulle vlug van die wil van God vir ons verhouding tot die naaste weg deur skielik veel ywer vir die liefde tot God te openbaar. Maar gaan dit werklik daaroor? Is hulle nie dikwels besig met ’n selfgesentreerde godsdiens wat meer om hulleself as om God gaan, en daarom nie die toets kan deurstaan om soos Jesus uit liefde tot God volledig vir die naaste te lewe nie?

Daarom geld van hulle ook wat Jesus van die Fariseërs gesê het: Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ’n mens doen en die ander nie nalaat nie (Matteus 23:23). Teologiese suiwerheid is baie belangrik, maar dit is uiters bedenklik as ’n mens dit probeer gebruik om weg te vlug van die gebod van God. Dit is egter presies wat gebeur as ’n mens die liefde tot God en die liefde tot die naaste teen mekaar uitspeel, om jou van die gebod tot naasteliefde los te maak. – WDJ