Onbedagsaamheid

ONBEDAGSAAMHEID
Die Burger, 2 Augustus 1986

Baie van die ongerief, leed en teleurstelling wat ons ons medemense aandoen, kom nie voort uit bewuste berekening nie, maar is eenvoudig die vrug van ons onbedagsaamheid. Dit geld ons huweliksverhouding, ons omgang met ons vriende, ons ontmoeting met mense in duisende situasies, en ook ons kollektiewe verhouding teenoor ander mense wat saam met ons hierdie land moet deel.

As ons bedagsaam genoeg sou gewees het, sou ons altyd die vraag gestel het hoe andere geraak sal word deur ons dade en woorde. Dit sal ons verplig om ons in die posisie van andere in te dink en dit in ag te neem met wat ons doen of sê. Daardeur kan ’n oneindige hoeveelheid ongerief, frustrasie, misverstande en krenking van mekaar uitgeskakel word. Wie homself hierin oefen, sal later vind dat dit eenvoudig ’n deel van sy lewenstyl geword het om nie net aan homself te dink nie, maar aan die andere wat deur sy doen en late geraak word.

Die feit dat ons mekaar so dikwels deur onbedagsaamheid benadeel, maak ons nie minder skuldig nie. Dit is wel waar dat ons nie altyd doelbewus bereken om andere sleg te behandel nie, en dit mag na ’n verskoning lyk. In werklikheid is onbedagsaamheid teenoor andere egter ’n vorm van selfgesentreerdheid wat ons net ons eie behoeftes en wense laat sien, terwyl ons die andere eenvoudig vergeet.

Dit is egter in stryd met die liefde. Naasteliefde deurbreek die skans van selfsoeke en selfafsluiting wat ons so graag rondom onsself bou, en maak ons daarvan bewus dat ons vir andere verantwoordelik is en na hul belange moet omsien. Onbedagsaamheid is ongevoelig vir die naaste se belang, en juis daarin is dit in stryd met die fyngevoeligheid van die liefde wat altyd aan ander wil doen soos ons sou wil hê dat hulle aan ons moet doen.

Ons sal onsself onmoontlik voor die gerig van God kan verskoon deur te sê dat ons ongelukkig nie daaraan gedink het dat ons optrede, of die gebrek daaraan, vir andere tot nadeel sou strek nie. In Matteus 25 sê Jesus dat diegene wat in die laaste oordeel na die plek van ewige straf verwys sal word, verwonderd sal vra wanneer hulle dan nagelaat het om aan Jesus voedsel of drank, herberg of klere te gee, en wanneer hulle nagelaat het om Hom in die gevangenis te besoek. Hulle weet nie eens daarvan nie. Hulle het sulke geleenthede in onbedagsaamheid nooit opgemerk nie.

Maar dit verander nie hul oordeel nie. Jesus beskou hul onkunde oor wat hulle gedoen of nagelaat het, nie as versagtende omstandighede nie, maar eerder as ’n vergroting van hul skuld. Dit is nie ’n onskuldige saak om onoplettend, onbedagsaam en onkundig te wees oor die nood en belange van die naaste nie. Dit bevestig immers net hoe ongelooflik egosentries ons is. – WDJ