DIE NOOD VAN DIE KERK
Die Burger, 9 Augustus 1986
Dit is bemoedigend om te sien hoe daar in ons tyd ingrypende pogings aangewend word om die vlak van die kennis en geestelike lewe in die kerke te verbeter. Nie alleenlik is daar in verskillende kerke ’n doelbewuste program van gemeentebou aan die gang nie, maar daar groei ook in baie gemeentes ’n spontane beweging om deur Bybelstudie en gebed tot ’n groter insig en ervaring te kom van wat egte Christenskap is.
Dit moet opreg verwelkom word. Dit is juis die nood van die kerk dat dit so maklik kan verburgerlik tot ’n sosiale instelling wat slegs daar is om in die algemene behoefte aan plegtigheid en religieuse sanksie voorsiening te maak, sonder dat dit werklik ’n geestelike karakter besit. Waar dit gebeur, kan die kerk nie meer sy roeping in diens van die koninkryk van God vervul nie en dien dit hoogstens nog tot religieuse bevestiging van die bestaande. Op die lang duur word so ’n kerk volledig irrelevant.
Daarom is dit so belangrik dat daar beweging in die kerke moet kom – die beweging van egte geestelike lewe wat bereid is tot die soort dissipelskap waarvan die Bybel praat. Die kerk sal nooit betekenisloos in die samelewing word as dit getrou bly aan sy ware wese nie. Maar daardie ware wese van die kerk word altyd weer bedreig wanneer die band tussen kerk en samelewing van sodanige aard word dat die kerk maar net die burgerlike waardes en gedagtes van die samelewing reflekteer.
Dan het die kerk niks meer aan hom wat vreemd en uitdagend is nie. Hy het daarin geslaag om die hoogspanning van die evangelie mak te maak in die transformators van die burgerlike denke waardeur hy oorheers word. Niemand hoef meer daarvoor te skrik nie. Maar niemand hoef ook meer enigiets betekenisvol daarvan te verwag nie. So ’n kerk is met magteloosheid geslaan.
Daarom is dit so belangrik as daar tekens van nuwe lewe in die kerke sigbaar word. Die groot vraag is egter net of die kragte wat agter hierdie tekens sit, sterk genoeg gaan wees om die kerke in hul harte aan te raak en tot nuwe lewe te bring. In die verlede het dit dikwels geblyk dat ’n verburgerlikte kerk nie maklik deur herlewingsbewegings tot nuwe lewe kan kom nie. Sulke bewegings bly maar iets aan die rand en slaag nie maklik daarin om tot in die wese van die kerke deur te dring nie.
Hoe hard dit ook mag klink, is dit tog waar dat die geskiedenis getoon het dat die enigste hoop vir sulke kerke is dat hulle deur ’n tyd van diepe krisis heen moet gaan, voordat daar weer iets nuuts in hulle gebore word. Omdat hulle met hande en voete vasgebind sit aan die samelewing wat hulle dien, is ’n krisis in daardie samelewing dikwels die weg waarlangs hulle hul eie bankrotskap ontdek en leer om hulself opnuut aan die koninkryk van God te oriënteer. Eers dan kom hulle tot egte vernuwing. – WDJ