Die raaisel

DIE RAAISEL
Die Burger, 16 Augustus 1986

In die Bybel is daar een ding wat as die grootste moontlike raaisel van ons lewenswerklikheid gesien word, en dit is die sonde. Nêrens word ’n poging aangewend om die oorsprong van die sonde te verklaar nie. Daar word slegs gekonstateer dat die sonde daar is, dat dit opduik in Gods goeie skepping, dat dit sy vernietigende werking uitoefen en dat dit die mens se lewe in skuld en oordeel dompel.

Veral oor een ding is die Bybel daarby baie reguit: die sonde vind sy oorsprong nie in God nie. Al wat geskape en goed is, kom van God, maar die sonde dank sy oorsprong en bestaan nie aan die wil en die skepping van God nie. God is lig, en in Hom is geen duisternis nie. Die sonde is juis duisternis en vyandskap teen God.

Daarom is dit ook die voorwerp van Gods toorn en droefheid. ’n Mens moet maar weer ’n keer rustig die geskiedenis van die sondeval in Genesis 3 lees en die wyse waarop God daarna met Adam, Eva en die slang handel. Of ’n mens moet die aangrypende lied in Jesaja 5 lees, waar die profeet vertel van die goeie wingerd van sy Beminde wat op ’n onverklaarbare wyse slegte druiwe dra.

In laasgenoemde gedeelte laat die profeet God die vraag stel: “Wat kan ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?” Selfs God stuit voor die raaisel van die sonde wat teen sy wil ingaan en op ’n onverklaarbare manier sy doel weerspreek.

Maar hoe onverklaarbaar die sonde ook al is, die Bybel laat geen twyfel daaroor dat ons skuldig is aan die sonde nie. Die raaiselagtigheid van die sonde is geen verskoning vir ons sonde nie. Dit onthef ons nie van die blaam daarvoor nie. Ons weet voor die aangesig van God: dit is my skuld, dit is ek wat daarvoor te blameer is.

So ervaar en erken Paulus dit in Romeine 7. Hy teken daar uitvoerig die innerlike tweespalt in die lewe van die mens wat bewus geword het van die sonde en wat dit volgens sy diepste begeerte nie meer wil doen nie. Tog moet by konstateer dat die kwaad selfs teen sy eie wil in nog sy doen en late vervul, en wel op sodanige manier, dat hy homself nie kan vrypleit van die verantwoordelikheid daarvoor nie. Ek begryp self nie wat ek doen nie, sê hy, want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek. Dit is egter nie ’n vreemde mag wat hom daartoe dwing nie, maar die sonde wat in homself woon – ’n wet wat in sy eie lede aanwesig is en waarvoor hy self verantwoordelikheid moet aanvaar.

Ons is skuldig aan die raaisel van die sonde, maar ons kan die mag daarvan nie self verbreek nie. Net God kan ons uit die ban daarvan verlos. So lui ook die juigkreet van Paulus: Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here! – WDJ