DIT IS DIE TOETS
Die Burger, 30 Augustus 1986
Ons raak gewoond aan die dood. Daar gaan nie ’n dag verby waarop die koerant nie ’n groot aantal berigte oor die dood van mense in ons woonkamer indra nie. Ons luister maar met ’n halwe oor na die radioberigte oor hoeveel mense vandag weer gesterf het in hierdie of daardie situasie. Dit vervul ons nie meer met ontsetting nie. Ons het geleer om daarmee saam te lewe.
En tog merk ons meteens ’n groot verskil as een van die baie mense wat sterwe, ’n dierbare is, iemand wat deel van ons self was, ’n vader of ’n moeder, ’n eggenote of ’n kind. Dan word die afgrond van die dood in al sy aakligheid voor ons oopgeruk. Dan neem ons nie maar net daarvan kennis nie, maar ly ons daaronder. Dit ruk ook skielik die probleem van die sin van ons hele bestaan oop en konfronteer ons met die vraag wat ons eie diepste waardes is.
Ja, wat dink ons werklik van die dood? Aan wat ons oor die dood dink, word ook duidelik wat ons oor die lewe dink. In ons gedagtes oor die dood val die diepste en laaste beslissings van ons lewe. Vir die Christen is sy omgang met die dood ’n toets vir die egtheid van sy geloof in God en in Christus, ja, in die evangelie van verlossing as sodanig.
’n Mens moet ’n keer weer Paulus se aangrypende redenasie in 1 Korintiërs 15 lees. Daar wys hy ons daarop dat die geloof in die opstanding van die dodes nie maar ’n stukkie detail van die Bybelse boodskap is wat ’n mens desnoods maar kan laat val sonder om daarmee jou geloof prys te gee nie. Nee, die boodskap van die opstanding uit die dood behoort tot die hart van die evangelie, sodat wie dit laat val, daarmee die evangelie self laat val.
Immers, sê Paulus, as die dooies nie opgewek word nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. As Christus nie opgewek is nie, is die verlossing wat in Christus verkondig word, ’n illusie. Dan is ons nog in ons sondes. Dan was Christus in elk geval nie die Verlosser soos die evangelie Hom verkondig nie. Dan was Hy ook maar net ’n mens wat eenmaal geleef en gesterwe het. Dan is die wat in Christus gesterwe het, verlore. As ons net (om welke rede dan ook) vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
Of kort gesê: As ons nie glo dat ons afgestorwe vader of moeder, vrou of kind weer uit die dood sal opstaan nie, dan bewys dit dat ons nie glo dat Christus uit die dood opgestaan het nie. En dan is die hele evangelie vals en waardeloos. En dan stort ons in die kuil van die nihilisme of in die vrugteloosheid van ’n godsdienstigheid sonder ’n vaste grond van hoop.
So stel die graf ons voor ’n allerlaaste keuse. – WDJ