ONVOORWAARDELIKE VERGIFFENIS
Die Burger, 4 Oktober 1986
Daar kan nie iets wees soos voorwaardes wat vir vergiffenis gestel word nie. Wie voorwaardes stel aan andere voordat hy hulle wil vergewe, wil nie regtig vergewe nie en verstaan van die Christelike opvatting van vergiffenis niks.
God vergewe ons onvoorwaardelik, want sy genade is onvoorwaardelik. God sê nooit aan ons: Ek sal jou vergewe as jy belowe om jou lewe te verbeter nie. Dan sou vergiffenis ’n wettiese karakter dra en afhanklik wees van ons vervulling van die gebod van God. Dan sou ons Gods vergiffenis deur ons bekering of deur ons belofte van verbetering verdien.
Mense wat nie verstaan wat genade is nie, vergewe mekaar op hierdie wyse, maar dit is dan ook nie ’n egte vergiffenis nie. Die oortreding word onthou en agter die deur gebêre om weer uitgehaal te word as dit nodig geag word. Waar daar egter genade is en egte barmhartigheid teenoor mekaar, is vergiffenis altyd onvoorwaardelik en daarom ook blywend van betekenis, omdat dit nie rus op die vervulling van voorwaardes deur die ander nie, maar op die liefde en goedheid wat onverdiend aan hom geskenk word.
Selfs die belydenis van ons sonde word nie eens deur God as ’n voorwaarde vir vergiffenis gestel nie. Natuurlik is die belydenis van ons sonde die weg waarlangs ons Gods vergiffenis in ontvangs neem, maar dit is dan ook eerder ’n reaksie van ons kant op die grootheid van Gods goedheid teenoor ons, as dat dit ’n voorwaarde is wat ons eers moet vervul om vergewe te kan word. Belydenis is die reaksie van ’n verslae hart op die liefde van God, en daarom is dit onafskeidelik verbonde aan die ontvangs van vergiffenis en die aanvaarding daarvan dat God ons vergewe het. Gods vergiffenis is egter so onvoorwaardelik soos sy liefde onvoorwaardelik is.
’n Soort teologie wat mense leer om die eis van skuldbelydenis as ’n wapen te hanteer of as ’n voorwaarde vir vergiffenis, lei hulle weer op die weg van die wet in plaas van op die weg van genade. Maar die wet bring mense nooit werklik tot inkeer nie. Egte berou vloei voort uit onverdiende genade. Daarom is dit in al ons onderhandelinge met mekaar belangriker om liefde en goedheid te bewys as om mekaar wetties te bestraf. Onvoorwaardelike vergiffenis bewerk beskaming en bekering.
Daar is egter ’n besonder geestelike kwaliteit nodig om onvoorwaardelik te kan vergewe. Slegs wie self uit die genade van God leef, kan dit doen. Wie die genade nie ken, beleef en verstaan nie, kan nooit anders as moralisties en wetties wees nie. Maar moralisme en wettisisme is nog steeds benede-Christelik. Dit kom nog nie toe aan die werklike evangelie van bevryding waarvan die Bybel ons vertel nie. Dit mag die Naam van Christus op die lippe neem, maar Hy bly in so ’n opvatting maar ’n simbool van die wet, terwyl Hy tog Gods Genadewoord is wat ons met sy liefde beskaam. – WDJ