SY EIE SAAK
Die Burger, 1 November 1986
Die kerk moet uiteraard altyd daarna strewe om homself met die spesifieke uitdagings en behoeftes van sy tyd besig te hou.
Die evangelie wat die kerk verkondig, is wel die “ewige evangelie” en Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Hebreërs 13:8). Maar soos Jesus Christus in die tyd en in ons konkrete vlees ingegaan het, gaan die ewige evangelie ook in die konkrete nood en behoeftes van elke tyd in om juis daarin die Woord van verlossing te wees. Daarom is die evangelie altyd aktueel vir elke tyd, mits dit reg verstaan en verkondig word.
Die kerk moet goed genoeg na die boodskap van die evangelie luister om dit in elke tyd opnuut weer te verstaan en te vertolk as die bevrydende Woord vir daardie tyd met sy spesifieke omstandighede. Doen die kerk dit nie, kan hy maklik in ’n verkeerde tradisionalisme verval en net formules uit die verlede herhaal. Dan word die kerk in groot mate irrelevant en betekenisloos.
Terselfdertyd lê hierin tog ook weer vir die kerk ’n geweldige versoeking. Die kerk kan ook op ’n verkeerde manier by die tyd wees. In ’n poging om by die tyd te wees kan die kerk homself so by die tyd aanpas, dat hy nie meer sy eie vreemdheid teenoor die tendense, strominge en heersende gedagtes van die tyd bewaar nie en gevolglik eenvoudig ’n naprater daarvan word.
Pleks dat die kerk hom met sy eie saak – die evangelie van die koninkryk – besig hou en laat sien wat dit juis vir hierdie spesifieke tyd met sy probleme beteken, gebeur dit dan maklik dat die kerk die kulturele, politieke en maatskaplike slagkrete van die dag oorneem en dit van religieuse sanksie voorsien.
Aanvanklik kan dit lyk of die kerk daardeur populêr en betekenisvol word, maar die prys wat uiteindelik daarvoor betaal moet word, is onberekenbaar groot. Die kerk verloor sy karakter, pleeg verraad teenoor sy eie saak en loop gevaar om deur sy verbondenheid met die idee en mode-woorde van ’n bepaalde tyd, saam met daardie modewoorde en idee obsoleet te raak as ’n nuwe situasie ontstaan.
Die kerk beteken die meeste vir die samelewing en die politiek as hy homself nie met die politieke keuses van sy lidmate verbind nie, maar ’n kritiese distansie daarteenoor bewaar. As ’n kerk aan die versoeking toegee om homself met ’n bepaalde politieke idee of stelsel te identifiseer, kom daar onherroeplik ’n dag dat hy homself daarvan sal moet losmaak. Soms is daar dan reeds soveel skade aan die saak van die kerk gedoen dat selfs ’n belydenis van skuld dit nie meer ongedaan kan maak nie.
Hopelik kan ’n eerlike erkenning dat hy gefouteer het egter die kerk help om ’n nuwe begin te maak en hom versigtigheid leer om nie weer dieselfde weg te gaan nie. – WDJ