Katolisiteit

KATOLISITEIT
Die Burger, 8 November 1986

Ons bely elke Sondag dat ons glo aan die een, heilige, algemene, Christelike kerk. Die woord “algemeen” is die vertaling van die Griekse begrip “katoliek”, wat uitdrukking gee aan die gedagte van omvattendheid, universaliteit, onbegrensdheid.

Wanneer van die kerk bely word dat dit katoliek is, word daarmee bedoel dat die kerk nie maar net ’n plaaslike verskynsel is of iets van ’n bepaalde tyd, volk of kultuur nie, maar dat dit die omvattende gemeenskap van al Gods kinders uit alle tye en oor alle grense heen is.

Die kerk leef uit die evangelie wat vir alle tye en alle mense van beslissende betekenis is. Daarom het die katolisiteit van die kerk ook ’n dubbele betekenis: enersyds beklemtoon dit die ruimtelike en tydelike uitgebreidheid van die kerk oor die hele aarde en oor alle eeue heen, en andersyds gee dit uitdrukking aan die oortuiging dat die kerk leef by die volheid van die waarheid in Christus wat vir alle mense geldigheid besit.

Wanneer ons in ons plaaslike gemeentes bely dat ons glo dat die kerk katoliek is, sê ons daarmee aan die een kant dat ons deur die geloof onsself één weet met alle mense van alle tye en alle lande wat in Christus Jesus glo; dat ons nie ’n eksklusiewe groepie mense is wat ’n eie godsdienstige organisasietjie daarop nahou nie, maar dat ons deel het aan die één volk van God wat alle tye en volke omvat, die één liggaam van Christus.

Dit sê aan die anderkant dat ons nie maar ’n aantal persoonlike oortuigings daarop nahou wat vir ons aanvaarbaar en volgens ons vooroordele is nie, maar dat ons deel in die een ware geloof van die Christenheid soos dit in die Bybel aan ons voorgehou word. Die kerk is katoliek wanneer dit die karakter van die kerk van Christus dra en leef by die waarheid wat vir alle tye en plekke geldig is, en dus ook vir ons.

Hieruit volg die beslissende: wanneer ons in ons plaaslike gemeente bely dat ons aan die katolisiteit van die kerk glo, moet ons plaaslike gemeente self ’n katolieke karakter dra. Die een, heilige, algemene, Christelike kerk word sigbaar, voelbaar, ervaarbaar in ons plaaslike gemeente. Ons plaaslike gemeente is die katolieke kerk op hierdie bepaalde plek en tyd.

Dit beteken nie net dat ook ons plaaslike gemeente moet vashou aan die algemene Christelike geloof nie, maar ook dat ons eredienste oop moet wees vir almal wat die Woord wil hoor, en ons lidmaatskap vir alle mense wat met ons die een ware geloof bely. Die plaaslike gemeente het nie ander voorwaardes vir lidmaatskap as die algemene kerk nie. Die kerk is nooit “ons” kerk nie. Dit is Christus se kerk. Almal wat Jesus Christus soek en liefhet, moet daar welkom wees en tuis voel. Wie dit ontken, tas die kerk in sy hart aan. – WDJ