Dit word van ons gevra

DIT WORD VAN ONS GEVRA
Die Burger, 15 November 1986

Daar is geen mens wat die ondersteuning, bemoediging en troos van ander mense kan ontbeer nie. Miskien lyk sommige asof hulle geen behoefte daaraan het nie, maar die skyn bedrieg.

Onder die masker van ongevoeligheid vir en onafhanklikheid van die waardering en opmerksaamheid van andere skuil daar feitlik altyd ’n diepe hunkering daarna om deur die liefde omvat en aangeraak te word. Selfs wie homself al op allerlei maniere daarvan oortuig het dat hy die liefde van andere nie nodig het nie, bly ’n kandidaat vir verkrummeling as die bries van liefde oor hom waai.

Daarom is vriendelikheid, opmerksaamheid, belangstelling en ’n bietjie aandag wat ons aan ons medemense bestee, sulke magtige middele om die wêreld anders te maak. Dit kan mense se klein en donker wêreld oopbreek en hulle laat opmerk dat die son nog skyn. Dit kan aan hulle ’n oor verskaf wat na hul leed wil luister, ’n hart wat hul leed of vreugde wil deel, en die besef dat hulle nog nie heeltemal vergete is, soos hulle gedink het nie.

Die meeste mense wat ons ontmoet, lê nie fisiek langs die pad, verwond en geplunder deur gewapende rowers, soos die man in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan in Lukas 10 nie. Hulle lê meestal psigies en geestelik halfdood langs die pad, verwond deur die hardheid van die lewe, vermink deur die teleurstellings en die leed. Die tekens van hul verwonding is nie bloed nie, maar hul hardheid, afsydigheid en bitterheid, of die swygsaamheid van ’n eensaamheid wat nie deurbreek kan word nie.

Wat van ons gevra word, is meestal nie om hul wonde letterlik met olie en wyn te behandel en hulle op die rydier te laai en na ’n herberg te neem nie, maar om ’n hand na hulle uit te steek en hulle aan te raak met die vriendelikheid en liefde wat genees. Ons lees van die Barmhartige Samaritaan dat hy, toe hy op die arme, verwonde man langs die pad afgekom het, hom gesien en hom innig jammer gekry het. Hierdie sien van die ander in sy nood, en hierdie innige jammerte, dit is wat van ons gevra word in elke situasie waarin ons met andere te make kry.

Dit is net oë wat verlig is deur die liefde wat andere in hul nood kan raaksien. Van nature is ons oë na binne gekeer. Ons is so besig met ons eie begeertes en wense, ons is so haastig op pad na ons eie doel, ons is so gevoelloos vir die eensaamheid en leed van andere, dat ons hulle nie werklik raaksien nie. Maar wanneer ons self deur die liefde van Christus aangeraak word, kan dit ook met ons gebeur dat ons leer sien en begin om jammer te kry.
Ons het almal die liefde van andere nodig. Ons het hul belangstelling en waardering nodig. Kyk vandag tog rondom u en vra u self af waar u vandag die verteenwoordiger kan wees van die opsoekende en vertroostende liefde van Christus. – WDJ