ONS WORD GEKEN
Die Burger, 29 November 1986
Een van die aangrypende dinge in Psalm 139 is dat die digter met soveel oortuiging getuig van die feit dat God ons deur en deur ken.
Here, U sien dwarsdeur my, sê hy, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie, of U, Here, weet wat dit gaan wees.
Die digter weet dat dit onmoontlik is om Gods teenwoordigheid te ontglip. ’n Mens kan nie van God wegvlug of iets vir Hom bedek nie. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, sê hy, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag is so lig soos die dag, duisternis is so goed soos lig.
Ja, Gods kennis van ons gaan terug tot voor ons eie begin. God het ons immers gevorm – ons aanmekaargeweef in die skoot van ons moeder. Hy het ons geskep. Geen been van ons was vir Hom verborge toe ons diep in die moederskoot gevorm is nie. Hy het ons gesien toe ons nog ongebore was. Al ons lewensdae is in Gods boek opgeskrywe selfs voordat ons gebore was. Nee, daaroor kan daar geen twyfel wees nie: God ken ons deur en deur.
Maar is dit nie iets vreesaanjaend nie? Dit sou kon wees. As God ons vyand was, as ons voor sy vlammende oog moes wegvlug, as Hy ons die lewe en die geluk misgun het, as Hy met ons sou handel in ooreenstemming met ons sonde, as God ons agtervolg het met die roede van sy geregtigheid, dan sou dit vir ons niks anders as vreesaanjaend gewees het om te besef dat God ons so deurskou nie.
Maar dit is Goddank nie die geval nie. Die digter van Psalm 139 is nie met angs vervul by die gedagte dat God hom so deur en deur ken nie, maar met verwondering en aanbidding. Vir hom is die wete dat God hom so volkome ken, selfs sy diepste troos. Hy weet immers dat die kennis wat God van hom het, die kennis van die liefde is. God is nie sy vyand nie en maak nie op hom jag nie, maar is by hom betrokke met ’n onbeskryflike teerheid.
Dit is nie dat die sonde van ons bestaan vir God nie afskuwelik is nie. God haat die sonde wat Hy in ons vind. Maar sy nee, wat Hy teenoor ons sonde spreek, is nie sy laaste woord nie. Die ja van sy liefde is sterker as die nee van sy toorn. As Hy ons tot op die bodem van ons wese deurskou, is ons sonde wel oop en bloot voor Hom, maar Hy bly nie daarby staan nie. Hy word in sy omgang met ons beweeg deur die liefde waarmee Hy ons gedink en gemaak het – en daarom laat Hy ons nie los nie.
Ons is nie van God vergete en verlate nie, selfs al sou ons soms in ons sonde ook wens dat ons dit kon wees. Ons word in sy liefde geken en daarom vasgehou in die ewige bewussyn van God.– WDJ