Geloftefees se uitdaging

GELOFTEFEES SE UITDAGING
Die Burger, 16 Desember 1986

Geloftefees behoort tot die kosbaarhede wat deur die geskiedenis aan ons meegegee is. Dit is gebore uit die oorwinning by die Slag van Bloedrivier, wat vir die Voortrekkers niks anders was nie as ’n verhoring van gebed. Met ’n gelofte het hulle hulself en hul nageslag verbind tot die dankbare herdenking van hierdie gebeurtenis, en daarmee aan ons ’n Christelike volksfees meegegee wat ons jaarliks herinner aan die uitredding van destyds en ons voortdurende afhanklikheid van God vir ons bestaan en voortbestaan.

Na sy aard is Geloftefees ’n eenvoudige volksfees soos alle volke dit ken. Op sigself hoef dit aan niemand van ’n ander volk aanstoot te gee nie. Dit sou ook nie gebeur het as die gebedsverhoring wat op Geloftefees herdenk word, te make sou gehad het met die verlossing uit ’n natuurramp of ’n ander vorm van bedreiging wat nie met ander mense te make gehad het nie.

Die gevoelige punt in verband met Geloftefees is egter dat dit te make het met ’n oorlogsoorwinning oor die magte van ’n ander volk met wie ons nog steeds in dieselfde land saamwoon en wat as verteenwoordigers kan geld van die totale swart bevolking van ons land. Dit beteken dat ons jaarlikse viering daarvan vir die oorgrote meerderheid van ons landsbevolking ’n herinnering aan ’n nederlaag is, met al die politieke assosiasies wat vir hulle daaraan verbind is.

Aanstoot
Geloftefees is dus nie maar ’n saak wat net onsself raak nie. Ander volke kan hul oorwinnings vier sonder om te veel aanstoot te gee aan diegene wat die nederlaag gely het, omdat dit dan om mense gaan wat in ander lande woon en nie direk deur hul vierings met onaangename herinnerings uit die verlede gekonfronteer word nie. Geloftedag moet egter feitlik noodwendig by die swartmense in ons land negatiewe gevoelens oproep – selfs al bedoel ons dit nie.

Dit is vir hulle prakties onmoontlik om dit positief te ervaar. Hulle sien dit nie as ’n suiwer godsdienstige fees waarin ons God dank vir sy bewaring nie, maar as ’n viering van ons oorwinning oor hulle as swartmense. Hulle kan moeilik onderskei tussen Geloftefees as geleentheid om God te eer sonder enige negatiewe gedagtes oor diegene wat in 1838 oorwin is, en Geloftefees as viering van ons blanke baasskap.

Gevolglik verstaan hulle Geloftefees as ’n geleentheid waarby die Afrikaners hulself geestelik mobiliseer teenoor die “swart gevaar”. Daardeur word Geloftefees binne die huidige gespanne politieke klimaat eenvoudig ’n sensitiewe aangeleentheid, of ons dit wil erken of nie. Dit kan, anders as wat ons dit bedoel, antagoniserend en vervreemdend werk, tensy ons daarin sou kon slaag om Geloftedag op sodanige wyse te interpreteer en te vier dat dit ook deur die swartmense in ons land positief ervaar kan word.

Dit is die groot uitdaging waarvoor Geloftefees ons stel. Ons sal moet erken dat Geloftefees in die verlede dikwels veel meer geword het as die eenvoudige fees van danksegging aan God wat dit bedoel was om te wees.

Dit het langs die pad allerlei nasionalistiese en ideologiese bestanddele opgetel wat meegebring het dat Bloedrivier soms inderdaad op ’n mitologiese wyse gehanteer is, asof dit ’n soort roepingsgebeurtenis van die Afrikanervolk was – asof God daar ja sou gesê het teenoor die witman en per implikasie, nee teenoor die swarte. Hier en daar is selfs met die gedagte gespeel dat die Afrikanervolk sedert Bloedrivier ’n spesiale verbond met God het.

Betekenisvol
Al hierdie soort gedagtes moet ons in elk geval verwerp, selfs al was daar niemand wat daaraan aanstoot kon geneem het nie, eenvoudig omdat dit teologies totaal onaanvaarbaar is. Bowendien is enige vermenging van godsdiens en nasionalisme gevaarlik, omdat dit tot ’n pervertering van albei lei. In ons situasie is hierdie soort gedagtes ook politiek gesproke gevaarlik, en ons kan ons deur die voorbeeld van Ierland en ander plekke in die wêreld laat leer dat fanatisisme die resultaat daarvan is as godsdiens gebruik word om politieke ideale te onderbou en te motiveer.

Die uitdaging waarvoor ons in verband met Geloftefees gestel is, is dus dat ons eenvoudig hierdie fees moet ontmitologiseer en daarvan moet maak wat dit bedoel is om te wees: ’n eenvoudige godsdienstige geleentheid wat van alle politiekery en eksklusivisme gestroop is en vir enige Christen betekenisvol kan wees. Ons moet Geloftefees vier om God te dank vir sy bewaring en genade, en nie om God op te eis vir ons politieke ideale nie. Ons moet Geloftefees soos Christene vier wie se bestaan in die liefde gewortel is, en nie onsself daarby teenoor andere opstel of hulle van ons omgang met God uitsluit nie.

Dit het tyd geword dat verantwoordelike kulturele instansies uit die Afrikanergeledere die gesprek oor Geloftefees met verteenwoordigers van die swart bevolking van ons land aanknoop om misverstande en irritasies uit die weg te ruim. As ons mekaar kan leer verstaan, kan die gevaar van verkeerde persepsies van mekaar uitgeskakel word. En van ons kant moet ons die viering van Geloftefees so suiwer maak dat dit as volksfees van die Afrikaner tog ’n universele betekenis kry wat andere toelaat om dit te kan meemaak en waardeer, sodat hulle ons kan gun om dit te vier sonder dat dit aanstoot gee. – WDJ