DIE BLYE BOODSKAP
Die Burger, 20 Desember 1986
Tog jammer dat ons so gewoond geword het aan die woord “evangelie” (blye boodskap) dat ons ’n uitdrukking soos “die evangelie volgens Matteus” nie meer verruklik vreemd vind nie. Nêrens buite die Christendom tref jy egter ’n geskrif aan wat die naam “evangelie” dra nie.
Om iets van die oorspronklike vonkel van hierdie woord te herwin kan ons dink aan die TV-reeks waarin die twee jong manne die aangename taak het om mense te gaan vertel dat hulle reuse bedrae in ’n lotery gewen het.
Onthou u die uitbundige blydskap veral wanneer die ontvangers van die vreugdetyding in ’n groot finansiële verknorsing was? O die vrolikheid, O die saligheid! En dan die gesigte van die twee boodskappers. Só behoort die oë van ’n VDM te vonkel. Elkeen van hierdie episodes het ’n mens onwillekeurig laat dink aan Jesaja 52:7: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: Jou God is Koning!”
Hierdie vreugdebode uit die profesie van Jesaja is deur die Palestynse Jodedom met die Messias vereenselwig. Wanneer Johannes die Doper dan in die tronk wonder of Jesus regtig die Een is wat sou kom, vertel sy dissipels hom van al die wonderlike dinge wat Jesus doen, maar die klimaks bestaan daarin dat Hy aan armes die evangelie verkondig (Matteus 11:5).
Ons praat graag van “die vier evangelies”, maar die betekenis van “evangelieboek” het die woord eers later gekry. By Ignatius, in die begin van die tweede eeu, hoor ons nog: “Ek neem my toevlug tot die evangelie soos tot die vlees van Jesus.” Vir hom is Jesus Self die inhoud van die evangelie. So ook vir die engele in die velde van Betlehem wat sing van die “goeie tyding van groot blydskap”.
Ook Paulus is gestuur “om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor”. Die reddende krag van God wat gestalte aangeneem het in Krip en Kruis, is die evangelie wat aan ons verkondig word.
Hierdie blye boodskap hoef jy nie eers jou eie te maak nie – dit is vir jou: Dit word aan jٖóú verkondig. Gods genade in Christus Jesus word jou toegesê. Wanneer jy nog eers self daarmee iets wil maak, verdwyn die blyheid uit die blye boodskap. Die evangelie word dan vermink tot wet. Nee, jy kan dit net maar ontvang met jou ore, soos Calvyn sou sê. Wie die blye boodskap waarlik hoor, word bly. En wie bly is, gee daar blyke van.
Die waarheid van die evangelie is nie ’n “harde waarheid” nie, maar ’n blye tyding. Die taak van die verkondiger is derhalwe ook nie om die mense “goed die waarheid te vertel nie”, maar om hulle bly te maak.
Daar is niks so hartseer as wanneer mense weier om ’n blye boodskap te glo nie. Geen wonder dat Jesus huil oor Jerusalem nie. Geestelike en materiële rykdom het die neiging om jou ore vir die evangelie te sluit. Dit wil voorkom of net die “armes” dit hoor.
Die Bybel bestaan uit ’n blye boodskap, maar blykbaar net vir die “bedelaars”. – WDJ