Dit gaan verby

DIT GAAN VERBY
Die Burger, 31 Desember 1986

Die laaste dag van die jaar wek altyd gemengde gevoelens by ’n mens op. Aan die een kant is jy vrolik en dankbaar, maar aan die ander kant is jy tog ook vervul met ’n sekere weemoed en nostalgiese gevoelens.

Klaarblyklik hang hierdie ambivalensie in die gemoed saam met ’n basiese tweeslagtigheid in die mens se verhouding tot die tyd. Die feit dat die tyd verbygaan en dat mense self tydelike wesens is, word deur die mens nie eensydig positief of negatief ervaar nie, maar as positief en negatief tegelyk.

Dat ’n mens dit as positief kan ervaar dat die tyd verbygaan, vloei daaruit voort dat die lewe van dag tot dag en van jaar tot jaar soveel inspanning, harde arbeid, sleur en ander onaangename dinge inhou, dat jy bly is oor wat daarvan verby is. Daarom tel so baie mense die ure af tot vyfuur, wanneer die kantoor sluit, die dae tot Vrydagmiddag, wanneer die naweek begin, en die maande tot Desember, wanneer die Kersvakansie aanbreek.

Kinders wens die tyd verby totdat hulle skool toe kan gaan, en wanneer hulle in die skool is, wens hulle die jare verby totdat hulle die skool kan verlaat. Jongmense hoop dat die tyd verby kan gaan totdat hulle op eie bene kan staan, in die huwelik kan tree en ’n eie huis kan besit. As dit gebeur, wens hulle die tyd verby totdat hul kinders groot sal wees, of totdat die senior persoon bokant hulle aftree, of totdat hulle bevorder kan word en ’n makliker lewe sal kan lei.

Dankbaarheid
Die mens se hart neig na die toekoms, en in sy ongeneeslike optimisme hoop hy dat, as die huidige tyd met sy dinge wat pla net verby kan gaan, daar iets gelukkigs vir hom voorlê. Maar op hierdie manier wens jy natuurlik jou lewe verby, omdat telkens wanneer die tyd aangebreek het waarna uitgesien is, daar weer genoeg dinge is om jou opnuut te laat wens dat dit verby sal gaan. En so bly dit tot daardie laaste groot wens op die sterfbed, wanneer die tyd verbygewens word tot die verlossing kom.

Nou is dit gelukkig waar dat baie van die dinge waarna die mens uitsien, ook werklik gebeur. Die verbygaan van die tyd bring dikwels vir jou beter omstandighede en genesing van jou droefheid. Dikwels kan jy aan die einde van ’n jaar met dankbaarheid terugkyk op ’n stuk donkerte wat verbygegaan het, of merk dat die pyn in jou liggaam of jou hart draagliker geword het. Deurgaans moet die mens – as hy eerlik wil wees – dankbaar wees oor die goeie wat hy uit Gods hand ervaar het, ondanks die swaarkry wat daar was. Maar hoe dan ook: dat die tyd verbygaan, word nie net negatief ervaar nie.

En tog kan ’n mens nie ontken dat jy die verbygaan van die tyd óók negatief ervaar en met droefheid daaraan dink nie. Jy kan nie anders as om hartseer daaroor te wees dat die lewe verganklik is nie. Die aardse lewe is begrens en kortstondig. Dit gaan verby, sê die Bybel, soos ’n gedagte.

Nostalgiese dag
Die mens is soos gras, sê 1 Petrus 1:24–25, en al sy skoonheid soos ’n veldblom. Die gras verdor en die blom val af. Daaraan is geen keer nie. Die lewe gly deur jou vingers soos water. Jy kan geen enkele moment daarvan vashou nie, al is dit ook hoe wonderlik. Daarom is jou hart veral op Oujaarsdag met nostalgie gevul. Jy dink terug aan al die vroeëre tye. ’n Vae verlange daal in jou neer. Hoe jammer tog dat dit alles verby moet wees, vir altyd verby, onherhaalbaar verby.

Veral as ’n mens ouer word, word die weemoed van Oujaarsdag al hoe groter. ’n Mens kan dit wegsteek, jy kan dit probeer weglag, jy kan liewer aan ander dinge probeer dink of die gedagtes probeer versmoor onder allerlei drukte. Maar heeltemal dood kan ’n mens die negatiewe gevoelens nie kry nie. Oujaarsdag is ’n nostalgiese dag.

Ontvlugting sal nooit help nie. ’n Mens moet eenvoudig maar aanvaar dat jy verganklik is en die vryheid vind om in jou hartseer herinneringe tog nie net negatief en ongelukkig of selfs opstandig daaroor te wees dat alles verganklik is nie. Die mens is nie God nie. Jy moet ook nie soos Hy ewig wil wees nie. Jy moet aanvaar dat mense skepsels is – soos die gras van die veld – en dat daar ’n einde aan jou aardse lewe moet kom.

Maar ’n mens moet leer verstaan dat die skynbaar onvernietigbare drang van die hart om op ’n beter môre te hoop, ’n tekentjie daarvan is dat jy vir God en dus vir die ewigheid geskep is. God het die ewigheid in jou hart gelê, sê die Prediker, die besef van die onbepaaldheid van die tyd. Jou verlange na die toekoms is ten diepste ’n verlange na die ewigheid.

God is die mens se toekoms. Die dood is nie die einde nie. Die evangelie weet nie net van die aftakeling van die mens se liggaamlike en aardse lewe nie, maar ook van die blye hoop van die opstanding van die vlees. Die mens se nostalgie oor die verganklikheid van die aardse lewe moet verander word in dankbaarheid daaroor dat die dood nie die einde is nie. Dit is op sy eie wyse ’n nuwe begin. – WDJ