’N PRAKTIESE SAAK
Die Burger, 7 Februarie 1987, bladsy 6
Die Bybel vra van ons ongekwalifiseerde liefde tot God. Die grootste gebod, die vernaamste wat God van ons vra, is dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart en siel, met ons hele verstand en al ons krag. Daarom gaan dit eintlik in die Bybel. Die verlossing waarvan die evangelie vertel, is verlossing tot hierdie liefde vir God.
Gods wil vir ons is ’n volledige en ongekwalifiseerde verbondenheid en toewyding aan Hom wat ons hele lewe stempel en beheers. Ons moet God liefhê in die sentrum van ons bestaan waar die beslissings val (ons hart), met ons gemoeds- en gevoelslewe (ons siel), met ons intellektuele vermoëns (ons verstand) en met al ons aktiwiteit (ons krag). Dit wil sê: alles wat ons dink, beplan en besluit, wat ons begeer en geniet, wat ons doen en bevorder – moet met God rekening hou en bedoel wees om Hom te behaag en te eer.
Maar is so iets ooit denkbaar en moontlik? Word ons nie deur hierdie gebod heeltemal oorvra nie? Hoe is so ’n toewyding aan God verenigbaar met ons gewone lewe as mense? Ons moet ’n volle menslike lewe lei met alles wat dit inhou. Daarvoor het God ons geskep. Dit behoort tot ons menswees om nie alleen die lewe nie, maar ook vrou en kind, ouers en familie, ons werk en ons spel, kuns en kultuur, ja, die aarde self lief te hê. Hierdie dinge mag dus tog plek in ons hart en lewe opeis. In watter sin vra God ons dan om Hom met ons hele hart en siel en verstand lief te hê?
Ons moet begryp dat die liefde wat God van ons vra nie op dieselfde vlak lê as ons liefde vir mense en dinge nie. Dit is ook nie van dieselfde aard nie. Dit is bv nie soseer ’n gevoel of ’n emosionele aangetrokkenheid tot God soos wat die geval by ons liefde vir mense is nie. Dit is veel eerder ’n diepe bewustheid van God en ’n heilige eerbied vir Hom. Om God lief te hê met ons hele hart beteken dan dat ons lewe fundamenteel op God gerig is, dat ons voortdurend met Hom rekening hou en dat die alles-bepalende motief van ons hart is om te wil wat God wil.
Die liefde vir God sluit nie die ander liefdes van ons hart uit nie, maar as ons God liefhet, is alle ander liefdes in ons lewe sekondêr en ondergeskik aan ons verhouding tot Hom. Ons liefde vir God word selfs die basis daarvan. Ons het mense lief, omdat ons God liefhet. Ons bemin alles wat waar en edel is, alles wat mooi en rein is, alles wat goed en prysenswaardig is, omdat dit alles van God kom wat die inbegrip is van alles wat goed en reg is. Ons het God lief as ons niks meer van God losmaak en buite God om wil besit of geniet nie, laat staan nog in sy plek wil plaas en vereer.
Dit is ’n baie praktiese saak. Ons het God lief as ons ons gewone lewe bewustelik voor sy aangesig leef en niks anders begeer nie, as om in ons hele bestaan sy gebooie te bewaar (1 Johannes 4:3). – WDJ