In alles

IN ALLES
Die Burger,  21 Februarie 19887, bladsy 10

Die Bybel laat ons sien dat God die verborge kwaal van ons hart, die donker sorg wat in ons lê, deur en deur ken. Vandaar dat die Bybel so vol vermaninge is dat ons moet ophou om ons te bekommer, dat ons ons sorge op God moet werp en dat ons oor geen ding besorg moet wees nie, maar in alles ons begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend moet maak (Filippense 4:6).

“In alles” – dit is belangrik om dit te onthou. Daar is niks te groot of te klein om daarmee na God te gaan nie. Dikwels is die dinge wat ons hart ontstel, so gering dat ons skaam voel om daaroor te bid. En soms is dit weer sulke geweldige dinge, dat ons voel dit is te ingewikkeld om selfs maar te probeer om dit onder woorde te bring.

Soms is dit materiële dinge wat ons kwel, maar dikwels is dit ook geestelike dinge wat ons hart in beroering bring. Soms weet ons dat ons met goeie reg besorg is, omdat dit om andere gaan of om die saak van die Here, maar dikwels weet ons diep in ons hart dat dit eintlik ’n sondige sorg is wat ons vervul.

In die teks uit die Brief aan die Filippense moedig Paulus ons aan om al ons sorge voor God te bring en “in alles” ons begeertes aan God bekend te maak. Natuurlik is dit nie so dat Hy dit nie reeds ken nie, want niks is vir Hom verborge nie, maar God wil hê dat ons in vertroue ons hart vir Hom moet oopmaak en die dinge aan Hom moet afgee wat vir ons te swaar is om te dra. En vir ons self is dit genesend om dit voor sy aangesig uit te spel. Daar leer ons dit in perspektief sien, en dit op sigself kan beteken dat ons verhouding tot ons sorge heeltemal verander word.

Paulus sê nie dat God al ons gebede sal verhoor en aan ons presies sal gee wat ons begeer nie. Hy gee ons egter wel die versekering dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus (Filippense 4:7). Dikwels is dit die ervaring van die bidder dat sy hart nog tydens die gebed verlig word van sorg en dat hy met vrede vervul word, omdat hy nie alleen anders na sy sorge begin kyk nie, maar ook bereid word om dit aan God af te gee.

Ons kan op ons knieë voor God ontdek dat ons sorg voortkom uit onheilige begeertes, uit die verwendheid waaraan ons gewoond geraak het, uit verkeerde motiewe wat verborge in ons hart skuil. Dan kan die gebed vir ons verander in ’n skuldbelydenis. En as ons hart gereinig is, smaak ons vanself die vrede van God.

Dikwels moet ons voor God erken dat ons bekommernis eintlik voortkom uit wantroue in sy sorg en wysheid. Ons is ongeduldig met God, asof ons beter weet as Hy. En as ons ophou om op ons sorge te konsentreer en ons hart tot God verhef aan Wie alle mag behoort en wat veel beter as ons weet wat goed is, kom ons hart tot rus. – WDJ