SEKURITEIT
Die Burger, 7 Maart 1987, bladsy 8
Alle mense het behoefte aan ’n gevoel van sekerheid. Daar moet vaste fondamente wees waarop ’n mens jou vertroue in die toekoms kan bou, anders word dit onmoontlik om ’n normale lewe te lei. Selfs al is daar baie dinge waaroor ons van dag tot dag onseker is, is dit noodsaaklik dat ’n mens met betrekking tot jou lewe as ’n geheel genoeg grond onder jou voete moet hê om die dag tegemoet te gaan, anders stort jy psigies in duie.
Hierdie sekuriteit wat ons nodig het, het baie kante. Een daarvan is die gevoel van geborgenheid wat die aanvaarding in die kring van ons familie en vriende en in die samelewing ons bied. Ons is baie meer as waarvan ons self bewus is, afhanklik van die vertroude mense en dinge rondom ons, van hul liefde en begrip, nabyheid en hulp. Daarom is eensaamheid vir ons so pynlik, veral in ’n vreemde omgewing wat vir ons besef koud en hard is, omdat ons nie ’n gevoel van tuiste daarin het nie. En daarom is min dinge vir mense so pynlik as verwerping deur hul eie familie of groep.
Ons behoefte aan sekuriteit gaan egter ook oor die toekoms. Ons probeer vir die toekoms sorg. Daarby dink ons dan dikwels in eerste instansie aan ons materiële node. Ons werk ons hele lewe lank hard, van vroeg tot laat, om iets bymekaar te maak vir die toekoms. Die vrees om êrens in die toekoms dalk gebrek te moet ly, is vir baie mense ’n bron van sorg.
Dikwels is dit selfs so dat die meeste van ons angs en sorge te make het met geld en goed wat die toekoms vir ons moet waarborg. Miskien is die meeste van ons nie geldgierig in die gewone sin van die woord nie, maar ons is tog baie materialisties, omdat ons ’n gevoel van sekerheid vir die toekoms wil bou op die wete dat ons genoeg versamel het vir die oudag.
As ons egter na die Bybel luister, merk ons dat ons voortdurend daarteen gewaarsku word om ons sekuriteit te probeer vind in aardse dinge, of dit nou die geborgenheid van ons eie familie of groep is, en of dit die materiële bates is wat ons probeer versamel. Die Here Jesus is uitgesproke daaroor dat God ons enigste werklike houvas vir tyd en ewigheid kan wees.
Daarom kan Hy verklaar dat, wie vader of moeder bo Hom liefhet, nie sy dissipel kan wees nie. Hy relativeer opsetlik die betekenis van die aardse bindinge, omdat ons geneig is om veel meer daarin te soek as wat dit kan bied. Daarom verbied Hy ons ook om ons te bekommer oor wat ons sal eet of drink of aantrek, waarsku Hy teen die gevare van die rykdom en vertel Hy sulke gelykenisse soos dié van die ryk dwaas wat sy vertroue op sy aardse besittings geplaas het.
Wie sy sekuriteit in enigiets anders as in God self soek, bou sy lewenshuis op sand. Net God en sy beloftes, is ’n rots wat altyd vas bly staan. – WDJ