DIE MISVERSTAND
Die Burger, 16 Mei 1987, bladsy 8
Dit is ’n groot misverstand om te dink dat die evangelie van genade sorgeloosheid in die geestelike lewe tot gevolg het. Waar mense met ’n beroep om die genade van God laks in hul geestelike lewe is, verstaan hulle die evangelie totaal verkeerd. Tog het hierdie misverstand deur die eeue die verkondiging van die evangelie begelei.
Die evangelie van Gods genade is bedoel as ’n troos vir die hart wat gekwel word deur sondebesef. Daar is geen soeter troos vir die mens wat van sy sonde bewus geword het nie, as die versekering dat God hom om Christus ontwil, sonder enige verdienste van sy kant, die sonde nie meer toereken nie, en aan hom die volkome geregtigheid en heiligheid van Christus toereken en skenk, asof dit sy eie is.
Maar hierdie boodskap is nie bedoel vir die mens wat in sy sonde verstok en verhard is en geen besef daarvan het dat hy alleen nog maar om Gods genade kan pleit nie. Vir so ’n mens kan die boodskap van Gods genade ’n oorkussing word waarop hy in valse gerustheid bly rus, sonder dat hy ooit met sy sonde gebreek het of begeer om dit te doen. In sy geval word die boodskap van Gods duur genade vervals tot ’n boodskap van goedkoop genade, soos Dietrich Bonhoeffer dit uitgedruk het.
Of miskien moet ’n mens dit anders sê. Hierdie boodskap is ook vir hierdie laasgenoemde mens bedoel, maar hy kan dit nog nie reg hoor nie, omdat hy nog verblind en verhard is en daarom geen besef het van sy eie sonde nie. Daarom misbruik hy dit. Hy onderskat die erns van die sonde en stel homself daarmee gerus dat God ’n genadige God is, sonder om te besef dat Gods genade ’n heilige genade is wat nie die sonde ignoreer nie, maar dit opruim en ’n mens daarvan bevry.
Daarom is dit noodsaaklik dat die toorn van God oor die sonde en sy oordeel oor alle ongeregtigheid nooit in die prediking verwaarloos moet word nie. Die moderne mens hoor nie graag meer van die oordeel van God nie, maar juis daarom moet die boodskap van Gods toorn hom nie gespaar bly nie. Dit is nie maar om’t ewe of ’n mens in die sonde volhard en of hy daarmee breek nie. As God selfs nie sy eie Seun gespaar het nie, maar aan Hom die sonde van die wêreld met sy ewige oordeel gestraf het, dan kan ons tog nie dink dat Hy in ons lewens maar die sonde sal duld, asof dit niks is nie.
Die boodskap van die vergiffenis is ’n boodskap wat gehoor word in die bewustheid van die gerig van God oor ons lewe soos dit is, nie ’n vrybrief om maar in die sonde te bly voortlewe, omdat God tog genadig is nie. Dit is die vryspraak van diegene wat hul sonde haat en daarvan wil wegvlug, die genesing vir die krankes, die lewensbrood vir die hongeriges, die aanvaarding van sondaars as Gods kinders, nie ’n lisensie vir die fariseër om in sy sonde te mag volhard nie. – WDJ