BESOEDELING
Die Burger, 27 Junie 1987
Deesdae is mense besonder bewus van besoedeling. Hulle praat oor lugbesoedeling, waterbesoedeling, omgewingsbesoedeling, selfs van geluidsbesoedeling. Gelukkig word van alle kante pogings aangewend om dit te bestry omdat die insig posgevat het dat dit besig is om die kwaliteit van die menslike lewe aan te tas en die ekologiese balans van die aarde te versteur.
Waaraan ons miskien nie genoeg dink nie, is dat ons ook geestelik en moreel besoedel kan word deur die dinge wat ons daagliks hoor, sien en beleef. Wanneer ons voortdurend blootgestel word aan dinge wat ’n aanslag doen op ons gees en ons moraal, moet dit op die lang duur vir ons geestelike gesondheid ten minste net so skadelik wees as die besoedeling van lug en water vir ons liggaamlike welsyn.
Daar word sterk gewaarsku teen die oormaat van geweld waaraan ons in rolprente en lektuur blootgestel is. Dit geskied volkome tereg. As kinders lank genoeg geleer het dat mense mekaar eenvoudig kan afmaai met pistole en bomme, moet ons dit nie vreemd vind as hulle naderhand self gewelddadige oplossings vir hul eie probleme begin soek nie.
Natuurlik kan daarop gewys word dat die Amerikaanse draaiboekskrywer altyd ’n soort morele lessie aan die geweld verbind. Dit is die slegte mense wat op die ou end gelukkig altyd weer die onderspit delf, want die goeie helde blyk nog gewikster te wees met gewelddadige metodes as die slegtes. Maar selfs op hierdie manier word die idee tog geplant dat ’n slegte mens maar met geweld te lyf gegaan mag word.
Dit is totaal in stryd met die Christelike moraal. Die menslikheid van die mens word in hierdie soort rolprente gruwelik aangetas en wanneer kinders van kleins af geleer word dat skiet en slaan die manier is waarop helde met ander mense omgaan, word hul gees noodwendig besoedel op ’n wyse wat ons nie kan verantwoord nie.
Dieselfde geld ook vir die wyse waarop ons jeug besoedel word deur die oormaat van seks en die wyse waarop dit in lektuur en rolprent gehanteer word. Hulle word gekondisioneer deur die manier waarop vrye liefde en die saamwoon van ongetroude mense as normaal voorgestel word. Die menslike seksualiteit is ’n gawe van God en is bedoel om verbonde te wees aan die beste en edelste sentimente waaroor ons as mense beskik. Wanneer dit egter in film en literatuur gebruik word vir sensasie en die opsmuk van derdegraadse materiaal, verlaag dit die seksuele en besoedel dit die gees van diegene wat dit lees of aanskou.
Ons kan nie maak asof dit niks is nie. Dit is ’n gevaarlike aanslag op ons geestelike welsyn wat te minste net soveel weerstand van ons vra as die besoedeling van water of lug, omdat daarby nog soveel meer op die spel is. – WDJ