Dit begin reeds hier

DIT BEGIN REEDS HIER
Die Burger, 4 Julie 1987, bladsy 8

Wanneer die Bybel oor die ewige lewe praat, moet ons nie net aan die lewe ná die dood dink nie. Die ewige lewe is in werklikheid die “ewigheidslewe”, die lewe in gemeenskap met die ewige God. Dit neem ’n aanvang wanneer ’n mens in die regte verhouding tot God kom. Daarom begin die ewige lewe vir die gelowige reeds op aarde.

Dit is veral baie duidelik in die Evangelie van Johannes, wat beklemtoon dat diegene wat in Christus glo, reeds oorgegaan het uit die dood in die lewe (Johannes 5:24). Ondanks die swakheid en gebrokenheid wat nog steeds hul deel is, het hulle reeds hier op aarde deel aan die onvernietigbare lewe wat uit God is. Daar is dus ’n sin waarin ons kan sê dat die hemel vir die verloste mens reeds op aarde begin.

As dit waar is van die lewe, is dit egter ongelukkig ook waar van die dood. Wie in sonde verlore is, het in feite deel aan die verdoemenis, waarvan die poel van vuur die uiterste tipering is. Dit is nie net dat hy daarheen op weg is nie; hy word reeds daardeur gestempel en staan midde-in sy aardse lewe klaar onder die oordeel van God.

Dit is vir die moderne mens moeilik om te aanvaar dat daar so iets as ’n ewige verdoemenis of ’n hel is. Tog is dit net so ’n realiteit as die lewe self. En as ’n mens nie blind is vir wat rondom jou gebeur nie, merk jy die werklikheid van die verlorenheid op talle maniere in die sinloosheid en hopeloosheid van die menslike bestaan.

Miskien is die beste manier om hierdie waarheid te illustreer dat ons verwys na bepaalde gewilde televisie-reekse wat onbedoeld die uitbeelding is van die soort verlorenheid wat ons op die oog het. Daarin tree mense op van wie se lewe ’n mens niks anders kan sê nie, as dat dit reeds ’n lewe in die verdoemenis is, midde-in hierdie lewe.

Daar is geen respek vir God of sy gebod nie; daar is geen sin vir enige blywende geestelike waarde nie; daar is geen troos of fondament waarop hul lewe rus nie. Daar is alleen maar die leegheid van ’n bestaan wat beheers word deur dié soort drange en drifte, ambisies en begeertes waaraan ’n mens jouself dodelik verwond.

Sulke mense het smarte, maar dit verander hulle nie. Hulle lê oorhoop met hulleself en met andere, maar dit laat hulle nooit vra wat werklik met hulle verkeerd is nie. Hulle word gaandeweg dieper ingesuig in ’n draaikolk van vernietiging, maar begeer blykbaar geen verlossing daaruit nie.

Natuurlik: die televisiefigure leef nie werklik nie. Hulle is die produkte van die draaiboekskrywers se fantasie. En tog is hulle nie buite-wêreldse figure nie. Op ’n bepaalde wyse is hulle tog ook onder ons aanwesig. Daar is miljoene mense wat, miskien net burgerliker en prosaïeser, volgens dieselfde beginsels lewe.

Dit gryp ’n mens in die hart. Ook vir sulke mense is daar verlossing, as hulle net kon hoor, as hulle dit net wou glo. Maar dan moet daar ’n wonder gebeur. – WDJ