ONS KAN VERANDER
Die Burger, 18 Julie 1987, bladsy 8
Dit is een van die pynlike ervarings van ons lewe as Christene dat ons telkens weer moet ontdek hoe min ons werklik ten goede verander. Die spreekwoord sê dat ’n jakkals van hare verander, maar nie van streke nie. In ons eie lewe moet ons dikwels ervaar dat dit met ons ook maar so is. Ons word ouer en ons omstandighede verander, maar ons bly in so baie opsigte onsself gelyk.
Vir ’n Christen is dit iets vreesliks as hy nie verander nie. Die Bybel leer ons uitdruklik dat ons moet verander. In Romeine 12:2 word ons daartoe opgeroep om ons deur God te laat verander en Hom moet toelaat om ons denke te vernuwe. In 2 Korintiërs 3:18 lees ons dat die Heilige Gees ons al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
As dit dus heeltemal waar sou wees dat ons niks verander nie, sou dit beteken dat die werk van die Heilige Gees in ons lewe volkome geblokkeer word, dat ons verhard is en nie wil toelaat dat die Gees ons denke en ons dade vernuwe nie. ’n Christen kan aan so iets net met siddering dink. Daarom is dit vir hom so pynlik as hy so min tekens van verandering in sy eie lewe kan ontdek.
Dit kan egter nie heeltemal waar wees dat ons niks verander nie. As ons werklik kinders van God is, is dit selfs onmoontlik dat ons dieselfde kan bly. Al is ons dikwels ongehoorsaam aan die Heilige Gees en al is ons geaardheid weerbarstig en ongevoelig vir die wil van God in ons lewe, is dit nog nie heeltemal waar dat niks in ons lewe verander nie. Dit sal wel waar wees dat ons nie genoeg verander het nie en dat ons daarom in haas alle opsigte met droefheid ons onveranderlikheid moet bely, maar as die Gees van God werklik in ons lewe woon, sal dit nie sonder effek bly nie.
Dat ons nie self tevrede is met die mate waarin ons reeds verander het nie, kan natuurlik ook goed wees. As ons self te veel bewus sou wees van die verandering in ons eie lewe, sou dit maklik tot selfgenoegsaamheid en geestelike trots kon gelei het. Daarteenoor hou die besef van ons eie tekortkominge ons nederig en versterk dit die verlange na ’n grondiger vernuwing van ons lewe.
Onvergenoegdheid oor ons gebrek aan verandering kan juis ’n teken wees dat ons sondebesef dieper geword het. ’n Groeiende sondebesef is die teenkant van ’n toename in heiliging. ’n Oppervlakkige sondebesef is nie ’n bewys van sondeloosheid nie, maar van ’n gebrek aan selfkennis.
Wat egter baie belangrik is, is dat ons nooit mag wanhoop aan die moontlikheid om te verander nie. As ons daaraan sou wanhoop, sou dit beteken dat ons die krag van die Heilige Gees onderskat. Ook daardeur kan ons die Gees bedroef. Die weg van die geloof is om in die aangesig van ons eie gebrekkigheid die Heilige Gees te dank vir sy geduld en bemoeienis met ons, en om Hom te vertrou om die goeie werk wat Hy in ons begin het, tot voltooiing te bring. – WDJ