’n Slegte getuigskrif

’N SLEGTE GETUIGSKRIF
Die Burger, 15 Augustus 1987, bladsy 10

Die onlangse gebeure rondom die insameling van geld vir Operasie Honger, is bepaald nie ’n goeie getuigskrif vir ons samelewing nie. Ons dink daarby nie soseer aan die omstrede wyse waarop die wenner aangewys is nie. Dit gaan om die hele idee wat in die wyse van insameling beliggaam word.

Alle eer aan diegene wat hulle die lot van die armes en die hongeriges aantrek! Hul inisiatief en bewoënheid oor diegene in nood, is vir ons almal beskamend en ’n aansporing om veel meer te doen vir die behoeftiges as wat ons tot dusver gedoen het. Christus was uitgesproke daaroor dat die oordeel oor die egtheid van ons geloof uiteindelik ook sal val rondom die vraag of ons na die behoeftiges omgesien het, die armes versorg en die gevangenes besoek het (Matteus 25). Dus: die sáák waarvoor Operasie Honger staan, is iets wat ons almal behoort aan te gryp en aan te spoor tot offerbereidheid.

Maar nou is dit so dat die ingesteldheid van ons samelewing die organiseerders van die insameling laat besluit het om nie ’n beroep te doen op ons sin vir barmhartigheid en ons simpatie met die armes nie, maar juis op ons hebsug. Die ervaring het blykbaar geleer dat morele beroepe en die afskildering van die ellende van die hongeres weinig effek op ons het. Die liefde tot die naaste wat ons moes beweeg het om ruim vir sy nood by te dra, is nie in so ’n mate aanwesig dat ’n beroep daarop genoegsame vrug oplewer nie. Dus: samel geld in deur mense in die geleentheid te stel om hulself in die proses te verryk – en help so die armes.

Dit is soos dinge blykbaar werk in ’n samelewing waar die afgod Mammon ’n geweldige rol speel. Geld wat stom is, maak reg wat krom is. Dit is ’n siniese kommentaar op die materialisme van ons samelewing. As ons tot op ’n punt gekom het waar morele oorwegings nie meer veel tel nie, maar naakte selfsug en hebsug, beteken dit dat die basiese waardes van ons samelewing nog bitter min Christelike of selfs humanistiese koloriet bevat.

Dan het dit werklik tyd geword om te vra waarheen ons op pad is en wat die oorsake van hierdie soort instelling is. Is dit nie miskien waar dat ons as gemeenskap ’n té groot premie plaas op die waarde van materiële dinge nie? Is die kapitalistiese stelsel van ons ekonomie genoegsaam getemper deur Christelike waardes om te voorkom dat dit ons samelewing deursuur met ’n gees van materialisme en naakte selfsug? Het ons die prys daarvan bereken om ons kinders groot te maak in ’n atmosfeer waar hulle nog net iets goeds sal doen as hulle materiële wins daaruit kan maak?

Die motief waarmee ’n mens iets doen, is van beslissende betekenis. Die klein bydrae van die arm weduwee is meer werd as die skatte van die rykes. Ons groot bydraes sal nog meer werd wees as ons dit uit liefde gee word en nie met ’n winsmotief nie. – WDJ