TERUG NA BASIESE DINGE (2)
Die Burger, 29 Augustus 1987, bladsy 8
Ons lewe in ’n tyd van ontsettende verwarring. Dit hang saam met die oorgangsfase waarin ons land – maar in ’n sekere sin ook die hele wêreld – hom bevind. Dit is net asof alles rondom ons besig is om in so ’n vinnige tempo te verander dat ons vermoë om onsself te kan oriënteer en te weet hoe ons oor die dinge moet dink, ons in die steek laat.
Miskien het ander mense in ander tye ook maar so gevoel. Die wêreld was nooit ’n rustige en idilliese plek nie. Dit kan op die oppervlak soms wel so lyk, maar dit is ook maar net so lank as wat ’n mens vanaf ’n afstand daarna kyk. As ’n mens van naderby in aanraking sou kon kom met die tye en plekke wat uit die verte so rustig lyk, sou ons ontdek dat daar oral en altyd dinge is wat spanning veroorsaak en aan mense die gevoel gee dat hulle nie presies weet hoe om dit te hanteer nie.
Tog is daar rede om te aanvaar dat ons tyd onder ’n besondere swaar druk verkeer vanweë die groot veranderinge wat wêreldwyd plaasvind. Daarom is dit nie snaaks dat die spanning en verwarring in ons tyd hewiger is as wat dit in lang tye van die wêreld se geskiedenis was nie. Ons staan klaarblyklik op ’n breekpunt tussen tye, en as ons lees wat die “tekens van die tye” is waarna Jesus volgens die Evangelies verwys, kan ons nie anders as om te sien in watter verhewigte sin juis daardie dinge in ons tyd in die wêreld aanwesig is nie.
Jesus het gepraat van oorloë en gerugte van oorloë, van hongersnode en pessiektes, valse profete en verdrukking wat in die wêreld sal wees. Hierdie soort dinge het altyd in die geskiedenis voorgekom. In ons tyd kom dit egter in ’n baie intensiewer vorm voor en vra daarom van ons om in hierdie tyd besonder nugter te wees en ons nie maar te laat meesleur, sonder kaart en kompas, in die siedende stroom van die gebeurtenisse en gedagtes nie.
Alle seine staan op rooi, en dit vra van ons om as gelowiges nie kop en koers en rigting te verloor nie, maar vas te hou aan die dinge wat wesenlik is, want daarin lê ons behoud. Konkreet beteken dit dat ons in ons persoonlike en gemeenskapslewe moet terugkeer na die dinge wat basies is, sodat ons ’n oriënteringspunt kan hê vanwaar uit ons die dinge wat gebeur, kan beoordeel en ons eie optrede kan bepaal.
En wat kan meer basies wees as om in die geloof ons staanplek in te neem op die veilige rots van die beloftes van God? Terug na die binnekamer en die Bybel, terug na die stilte van die omgang met God, terug na die oorgawe van ons lewe, tyd en omstandighede aan die magtige Here wat oor alles regeer: dit is die mees basiese dinge wat ons tans kan doen. Ons tye is in Gods hand. Ook die tyd waarin ons lewe. Vanuit die rus in God kan ons nie net self rustig word nie, maar ook andere help om geloofsrus te vind en só die verwarring van ons tyd oorwinnend te deurleef. – WDJ