NG KERK MAAK HOM LOS VAN REGSE GEDIENSTIGHEID
Die Burger 28 September 1987
NG Kerk maak hom los van regse dienstigheid
GEWESE BESWAARDE, Brackenfell, skryf:
Die kommentaar van prof. Willie Jonker op die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk se Stellenbosch-gemeente verdien verdere aandag. Prof. Jonker “bely” dat die NG Kerk nou meer Bybels optree as in die verlede. As dit waar is:
1. Hoekom ervaar die kerk dan juis nou soveel probleme t.o.v. werklose proponente, bankrot gemeentes, geskeide predikante, ‘n tekort aan diakens (vroulike diakens) en ’n apatiese houding van gemeentelede teenoor die kerk?
VERSTAND
2. Hoekom het hy, wat reeds so baie jare verbonde is aan die Kweekskool, nog nooit voorheen die saak reggestel nie? As teoloog van formaat wat ook soos ander bekendes in Nederland gestudeer het, het hy mos ook groot skuld aan hierdie “on-Bybelse” rigting wat die kerk so lank ingeslaan het.
3. Is dit nie so dat akademici aan sommige van ons kweekskole die kerk die laaste tyd self in ‘n rigting gestuur het om by die huidige linksbewegende politieke klimaat te pas nie en daarom is dit dat in kweekskole baie klem op die rede (verstand) geplaas word en min op die werking van die Heilige Gees in die hart van mense.
Die meer as 800 000 lidmate wat Sondagoggende landwyd onder die geklank van die Woord is, is ‘n geleentheid wat politici Se mond laat water.
‘REGEER’
Die Bybel bepaal dat die predikant wat die lerende ouderling is, die gemeente geestelik moet onderrig en die “gewone” ouderling moet die gemeente regeer en waak oor die leer en lewe van die predikant.
By sinodes “regeer” die predikante nou, dit terwyl ’n predikant, koster, skriba ens. in diens van die kerkraad is en deur die gemeente betaal word.
Die beskrywingspunte op die sinodesittings bly vooraf vir gemeentelede ‘n geheim. Hulle moet slegs val by die besluite wat geneem is en sorg dat hulle sinodale bydraes nie agterstallig is nie.
Die enigste reaksie van gemeentelede teen sulke outokratiese optrede is om afsydig van die kerk te raak, ‘n ander kerk te soek om of hul bydraes te weerhou.
Tans is al drie hierdie reaksies in die kerk waarneembaar en die kerk gaan letterlik en figuurlik op sy knieë gedwing word deur die een faktor wat die laaste aantal jare belangrik geword het in die kerk, nl. geld.
Die geestelike barometer van ‘n gemeente is dikwels sy finansiële posisie en baie predikante hou gemeentelede besig met geld insamel in plaas van dat gemeentebou toegepas word. Die kerk se stem het stil geword oor dinge soos bv.
KROEË
a) Die meer as dertig bordeeladvertensies wat elke Saterdag in ‘n Engelse-dagblad verskyn.
b) Die beoogde oopstelling van kroeë op Sondae.
c) Die sportuitsending Sondagmiddae oor die televisie.
Wanneer daar weer landwyd ‘n jeug-tot-jeug-aksie gereël word, en die kerk weer terugkeer tot sy eerste roeping, nl. die redding van siele, en die kerk hom nie steur aan politieke druk nie, dan sal die Here weer kragtig seen. Die Bybel is vol voorbeelde hiervan.
KOMMENTAAR
PROF. W.D. JONKER, Kweekskool, Stellenbosch, antwoord:
Dis moontlik dat sommige van die probleme wat die NG Kerk tans ervaar, juis die gevolg daarvan is dat hy te lank die vooroordele van sommige van sy lidmate ontsien het.
Noudat hy meer uitgesproke is oor die ware aard van die Christelike kerk soos die Skrif dit leer asook van die eise van die Bybel vir ons maatskaplike en politieke lewe, is daar tevredenheid en verlaat sommige selfs die kerk.
STILBLY
Vir die NG Kerk is die verlies van ‘n aantal lidmate en hul bydraes egter nie by benadering so belangrik as sy getrouheid aan die Skrif nie. Die kerk tree nie tans anders op (bv. meer outokraties) as in de verlede nie.
Dit is ook nie waar dat hy stilbly oor die dinge waarna “Gewese beswaarde” verwys nie.
Die verset teen die NG Kerk kom egter daaruit voort dat hy tans nie net oor dinge soos seks, drank en Sondagsport krities is nie, maar ook oor dinge soos onreg in die politieke en maatskaplike lewe, en dat hy van oordeel is dat die innerlike werk van die Gees in ons harte ook daarvoor bepaalde gevolge het.
Wat “Gewese beswaarde” as aanpassing by ’n linksbewegende politieke klimaat sien, is in verkwiklikheid ’n poging van die kerk om homself los te maak van die skyn van regse politieke dienstigheid, om sy kritiese taak in die samelewing na alle kante toe te kan verrig.