God gee wat Hy vra

GOD GEE WAT HY VRA
Die Burger, 3 Januarie 1987

Aan die begin van die jaar is dit gepas om ons te herinner aan die bekende gebed van Augustinus: “Gee wat U vra, en vra dan wat U wil.”

Daarmee word uitdrukking gegee aan die besef dat ons in ons eie krag nie in staat is om te beantwoord aan wat God van ons vra nie. Ons skiet moreel en geestelik so vêr te kort by wat ons eintlik behoort te wees, dat ons eenvoudig nie anders kan as om ’n mislukking te maak van die uitdagings en geleenthede wat op ons weg geplaas word nie.

Dit beteken dat, as dit van ons afhang, ons die moontlikhede wat die lewe ons bied, verspeel en verknoei. Wat vir ons tot ons lewensvervulling kon gedien het, loop dan vir ons op ’n dieper teleurstelling uit.

Gelukkig hoef dit nie so te wees nie. Deur Gods genade is ons nie aan ons self oorgelaat nie. 0ns hoef nie die lewe slegs in ons eie krag (of swakheid) tegemoet te tree nie. Die sukses van ons lewe hang nie af van ons eie vermoë om self die lewe te bekom of te beheers nie, maar van die guns van God wat ons dra en  ons in staat stel om te doen wat ons van nature nie kan of wil doen nie.

God verwag nie te veel van ons nie. Hy is ons Skepper en Verlosser en Hy weet waarvoor Hy ons bedoel het en waartoe Hy ons kan bevry. Die apostel Johannes skryf selfs dat die gebooie van God nie moeilik is om te gehoorsaam nie (1 Johannes 5:4). Daarmee bedoel hy natuurlik nie dat Gods gebooie vir die sondige, onverloste mens maklik is nie. Trouens, die liefdesgebod van God staan absoluut haaks op ons sondige geaardheid en gaan ons vermoëns as gevalle skepsels totaal te bowe.

Maar as ons verhouding tot God herstel is, as die Gees van God in ons woon en werk, kan ons van oomblik tot oomblik die krag ontvang wat ons in staat stel om te doen wat Hy van ons vra. Geen uitdaging is te groot as ons dit in die krag van God aanvaar nie. Selfs ons grootste verleenthede word tot ons beste geleenthede as ons leer om deur die geloof te lewe en in elke situasie volkome op God te vertrou.

Die nuwe jaar sal ongetwyfeld vir ons almal baie nuwe probleme, sorge en eise inhou. Maar as ons daarom bid, wil God graag aan ons gee wat Hy van ons in ons omstandighede vra. Sy krag word immers in ons swakheid volbring. – WDJ