TYE VAN VERANDERING
Die Burger, 10 Januarie 1987
Ons lewe is voortdurend aan verandering onderhewig. Dit is eenvoudig gegee met die aard van ons menslike bestaan. Die tyd staan nooit stil nie, maar bring altyd verandering mee. Waar daar lewe is, is daar beweging en vooruitgang of agteruitgang en verval. Dit loop altyd op verandering uit. Totdat die dood alles stillê, sal ons in ’n proses van verandering betrokke bly.
Tog is daar tye waarin die verandering betreklik rustig en ongemerk tot stand kom, soos wanneer die water van ’n rivier rustig afvloei na die see, so stadig en rimpelloos dat ’n mens dit skaars kan sien. Dan lyk dit net asof alles lang tye dieselfde bly.
Daarteenoor kom daar tye van snelle verandering, wanneer die waters om ons bruis en in ’n vaartversnelling deur eng passe raas om oor gevaarlike rotse te stort. Dit is in sulke tye dat ons benoud word oor die verandering, omdat ons skielik besef dat ou dinge besig is om vir goed verby te gaan en dat nuwe tye kom waarvan ons nie weet wat dit sal bring nie.
Ons grootste wens is dan om terug te keer na die vroeëre vertroude omstandighede, maar dis onmoontlik. Die geskiedenis kan nie teruggedraai word nie. Ons kan nie terug na wat verby is nie; ons kan nog net vorentoe; ons kan nog net probeer om in die nuwe tyd die kop bo water te hou en die nuwe situasie met durf en geloof te deurleef.
Ons beleef tans sulke tye van verandering. Ons het klaarblyklik by die eng passe van ons geskiedenis gekom en ons moet tussen gevaarlike klippe deur. Die nuwe jaar wat voor ons lê, sal dit waarskynlik opnuut bevestig.
Die groot vraag in sulke tye van verandering is of ’n mens die nodige soepelheid het om nuwe situasies suksesvol te kan hanteer. Soepelheid is die vermoë om jouself aan te pas by nuwe situasies, om te kan onderskei tussen dinge wat wesenlik is en dinge wat bykomstig is, en om noodsaaklike veranderinge te aanvaar sonder om die dinge waarop dit werklik aankom, prys te gee.
Soepelheid is iets anders as beginselloosheid of slapheid. Dit is die innerlike krag om in beheer van ’n situasie te bly, omdat jy die vermoë het om jouself nie te verongeluk deur verkeerde dinge te probeer red, terwyl jy die wesenlike verloor nie.
Daarom behoort Christene eintlik hierdie soort soepelheid te hê. Hulle weet immers uit die evangelie wat wesenlik is en wat bykomstig is. Hulle behoort beheers te word deur ’n geloof en hoop en liefde wat kan onderskei tussen die ewige en die tydelike, die noodsaaklike en die bykomstige. As hulle nie die lewe in perspektief kan sien nie, wie moet dit dan doen? En as hulle nie op die regte wyse soepel genoeg is om veranderinge te kan hanteer nie, van wie moet ons dit dan verwag? – WDJ