Aan God die eer

AAN GOD DIE EER
Die Burger, 17 Januarie 1987

In die daaglikse drukte of sleur van die lewe is dit baie moeilik om die juiste perspektief op die betekenis van die mens se bestaan te behou. Mense word so in beslag geneem deur die dinge wat met hulle gebeur, deur hulle verantwoordelikhede en deur hul dagtaak, dat dit feitlik onmoontlik is om ’n besef te bly behou van waarom dit alles eintlik gaan.

’n Mens is dikwels soos ’n bergklimmer wat, in sy worsteling om teen die steiltes uit te beur, volledig opgeëis word deur die inspanning van die moment om nie sy balans te verloor of sy voet verkeerd neer te sit nie, dat hy geen tyd het om na die wagtende kruin van die berg op te kyk nie.

Dit kan so maklik gebeur dat ’n mens se lewe dag na dag voortgestoot word in ’n proses van byna werktuiglike aktiwiteit en die eis om jou deel te doen en bevredigend te funksioneer binne die ratwerk van jou lewe tuis en by die werk, dat jy weinig tyd het om aan jouself te vra waarom jy dit alles doen, met watter motief jy dit doen en wat die uiteindelike sin van dit alles is.

Hoe ver en onwerklik lyk dan die Bybelse visie dat ’n mens se hele lewe eintlik maar een doel het, en dit is om aan God die eer te gee en Hom te prys met alles wat jy is en doen! Die lofprysing, die aanbidding, die verheerliking van God word in die Bybel verstaan as die diepste sin van die mens se hele bestaan. Daarvoor lewe ons eintlik. Elke daad, elke begeerte behoort ’n tree te wees na die bergkruin van die ewige lofprysing van God waarheen ons op weg is.

’n Mens moet maar die Psalms lees, die wonderlike liedere van die boek Openbaring, of die uitsprake van die apostel Paulus in sy onvergelyklike gebede waarin die aanbidding en lofprysing van God altyd ’n vername plek inneem (vgl bv Efesiërs 3:20–21). In vergelyking daarmee is ons lewe en gebede so aards, so op die tydelike en verganklike gerig, dat die lofprysing van God – oor wat Hy is en oor sy onuitspreeklike liefde – daarin dikwels geen plek het nie.

Daar is ook werklik bekering nodig om te kan verstaan dat ’n mens se hele lewe op die eer van God gerig moet wees en dat dit onmoontlik nie kan opgaan in die klein perspektief wat hy van nature daarop het nie. Daar moet iets fundamenteel met ’n mens gebeur as jy nie alleen moet verstaan dat jy geskep is vir God en sy eer nie; maar dit ook bewustelik aanvaar en bedoel.

Dit is eers as ’n mens begin lewe vanuit die geloof dat jou hele lewe bedoel is om ’n lofprysing op God te wees en as jy dit begin toestem en wil, dat jy dit ook kan begin beoefen. Dan dank jy God nie maar net by geleentheid as daar iets goeds met jou gebeur het nie, maar begin jy elke dag met dank en lofprysing, ongeag die situasie waarin jy verkeer. Gods kinders het altyd geweet dat ’n mens selfs in die nag lofliedere kan sing. Ook ons kan dit doen as ons ruimte wil maak vir wat God graag aan ons wil gee. – WDJ