ONS BEDROEF DIE GEES
Die Burger, 31 Januarie 1987
Dit bly maar altyd moeilik om die beloftes van die evangelie te glo. Eintlik moet dit nog sterker uitgedruk word: dit is vir die mens van nature eenvoudig onmoontlik om die beloftes van God te aanvaar en daarop te vertrou. As God nie deur die Heilige Gees ’n wonder aan ons doen en ons hart ontvanklik maak vir sy Woord soos Hy dit met Lidia, die eerste bekeerling uit Europa, gedoen het nie (Handelinge 16:14), sal ons nooit glo nie.
Maar selfs as die wonder gebeur en ons die evangelie aanvaar het, bly dit voortdurend ’n stryd om te glo. ’n Mens word nie op een keer gelowig, om daarna nooit weer te twyfel nie. Nee, die geloof is self ’n stryd. Dit word beoefen te midde van aanvegting en versoeking.
Van buite en van binne ervaar ons teenspraak teen die beloftes van die evangelie. Ons moet telkens weer deur die geloof triomfeer oor ons ongeloof. In ons gevalle toestand staan die dinge wat ons glo in baie opsigte eenvoudig haaks op wat ons kan sien en ervaar. Dit gee aan die ongeloof ’n voorsprong bo die geloof. Die geloof bly daarom ’n worsteling en dit is alleen deur Gods genade dat ons nie alleen die geloof behou nie, maar ook daarin toeneem en selfs sterk word.
Soms dink ons dat bepaalde beloftes van God moeiliker as andere is om te glo. Dit geld met name die beloftes van die werk van die Heilige Gees in ons. Blykbaar is dit vir ons makliker om te glo dat Christus vir ons sondes gesterf het as wat dit vir ons is om te glo dat die Gees van God in ons woon en dat God besig is om ons lewe dag na dag te vernuwe.
Die rede daarvoor is dat wat ons van onsself ervaar, dikwels so teleurstellend is dat ons nie kan glo dat ons reeds deel het aan die vernuwende werk van die Heilige Gees nie. Dat God self in ons woon en werk, lyk vir ons so totaal in stryd met die werklikheid wat ons ervaar, dat ons dit nie kan glo nie. Dan dink ons dat ’n mens nog kan glo dat God die wêreld liefhet en dat Hy in Christus die verlossing vir ons bewerk het, maar dat dit totaal onmoontlik is om te glo dat ons self reeds wedergebore is en met Christus gesterwe het en opgewek is.
Dit is natuurlik ’n wanindruk. Die geloof in die “objektiewe” werk van God in Christus, is nie makliker as die geloof in die “subjektiewe” werk van die Gees in ons nie. Albei aspekte van die werk van God is vanuit die ervaring onbewysbaar en vir ons ongelowige hart onaanvaarbaar. So min as wat ons geloof in die objektiewe werk van Christus op ervaring gebaseer kan word, so min kan ons geloof in die werk van die Gees in ons lewe op ervaring gegrond word.
Ook dit is ’n geloofsaak, en ons bedroef die Gees as ons weier om ook in hierdie opsig die beloftes te glo soos een wat die onsienlike sien. – WDJ