DIT LEER ONS BID
Die Burger, 28 Februarie 1987
Laat ons eerlik wees: in die meeste gevalle is dit nie die spontane verlange na omgang met God wat ons tot die gebed dryf nie, maar ons sorge, angs, mislukkings, frustrasies en teleurstellings.
As ons altyd ons eie sin sou gekry het; as alles altyd voor die wind met ons sou gegaan het; as ons nooit teenstand, nederlae en vernedering sou ondervind het nie, sou ons ongetwyfeld baie minder behoefte daaraan gehad het om ons hart in die gebed voor God uit te stort.
Dit is so maklik om in ons voorspoed te dink dat alles met ons in orde is, dat ons op die regte weg is en dat daar niks is om ons oor te verootmoedig nie. Die verborge kwaad wat in ons woon, kom nie maklik na die oppervlak om herken te word as dit nie deur provokasie uitgelok word en aan die lig kom nie. Die gevolg is dat ons ’n heeltemal te gunstige beeld van onsself kan kry en nie meer besef hoe afhanklik ons van God is nie. Ons vergeet die weg na die binnekamer, of begaan dit slegs uit gewoonte. Ons kan selfs byna soos ’n bedorwe kind word wat naderhand meen dat alle begeertes altyd net suiwer is en dat ons in alle dinge ons sin behoort te kry.
Daarom laat God toe dat ons op baie maniere en voortdurend in die noute gebring word deur dorings in ons vlees wat ons irriteer en ons bewus maak van ons behoefte aan die vergiffenis, genade en hulp van God. Of Hy laat toe dat beproewinge en selfs skande en vernedering oor ons kom om ons te laat besef hoe breekbaar, feilbaar en swak ons is. Dit is sulke dinge wat ons na ons knieë dryf om die troos en hulp van God te soek en innerlik gereinig en vernuwe te word.
Diegene wat in die geskiedenis ’n groot rol in diens van die koninkryk van God gespeel het, was almal op die ry af mense van gebed. Dikwels idealiseer ons egter sulke mense, omdat ons so min van hul innerlike lewe af weet. Ons dink miskien dat hulle mense was wat nie die stryd en aanvegtinge geken het wat ons lewe kenmerk nie, en dat hulle altyd net op die kruin van geestelike krag en sekerheid was.
In werklikheid was hulle almal mense wat op een of ander manier, en meestal op verskillende maniere, tegelyk aan omstandighede blootgestel is wat hulle bewus gehou het van hul persoonlike swakheid en hulle daarom na God uitgedryf het. Geen held in die koninkryk van God was ooit ’n mens wat in sy eie krag groot was nie. Die krag van God word altyd in swakheid volbring.
Daarom ken die kinders van God soveel dorings in die vlees, soveel swakhede en mislukkings, soveel frustrasies en teleurstellings. Hul geheim is nie dat hulle nooit in versoekings en beproewings kom nie, maar dat hierdie dinge hulle na Christus dryf en hulle leer bid. En so ontvang hulle die krag tot oorwinning. – WDJ