Ons magteloosheid

ONS MAGTELOOSHEID
Die Burger, 14 Maart 1987

Een van die pynlikste dinge van die menslike situasie, is die magteloosheid om iets te doen aan die groeiende en verdiepende verwydering wat tussen ons en ander mense kan ontstaan.

Dink maar aan die verwydering wat tussen ouers en kinders kan ontstaan, of aan die verwydering tussen eertydse vertroude vriende, of tussen man en vrou in die huwelik. Dit is nie dat sulke mense mekaar nie liefhet nie. Trouens, hulle kan op ’n besondere wyse aan mekaar verbonde wees. Hulle kan vervul wees met ’n egte en diepgaande behoefte aan mekaar. Hulle kan ’n byna ondraaglike pyn ervaar vanweë die verwydering en met ontsetting opmerk hoe dit groei. En tog kan hulle eenvoudig magteloos wees om iets betekenisvol daaraan te doen.

Dit is net of iets tussen hulle ingeskuif het wat hulle nie meer toelaat om by mekaar uit te kom nie. Selfs as hulle sou besluit om ’n einde aan die verwydering te maak, is dit of iets dieperliggends hulle tog verhinder om dit te kan doen. Dis of hulle nie ’n woord kan vind om die stilte tussen hulle te verbreek nie. Dis of hulle nie kan opstaan en die spinnerak van stilte wat tussen hulle geweef is, eenvoudig oopbreek nie.

Selfs as een van hulle sy hand sou optel en aan die ander raak, is dit of hy aan ’n vreemde raak. Die skreeu van die hart, die smart in die oë is nie genoeg om ’n brug te slaan nie. En so gaan die momente toe toenadering gesoek en bedoel was, vrugteloos verby, om die magteloosheid net nog groter te maak.

Die ergste is dat hierdie soort situasie feitlik nooit net bloot met individuele probleme te make het nie. Daar is meestal faktore van buite – waaroor ons weinig beheer het – wat ’n rol in hierdie verwydering speel. Dit kan faktore wees wat saamhang met ons werksituasie, met familie-omstandighede, met politieke werklikhede, met kollektiewe skuld en verwording. Maar wat dit ook al is, dit het altyd die manier om alles oneindig te kompliseer en middelpuntvliedend op die verhouding in te werk. Daardeur word alles soveel moeiliker.

Dit is net God wat ons in hierdie soort situasie kan help. Soos Jesus die lam man aangeraak en gesond gemaak het; soos Hy aan die stommes hul spraak teruggegee het; soos Hy die oë van die blindes geopen en aan gevangenes bevryding verkondig het, so kan Hy ons ook bevry uit die kokon van ons magteloosheid teenoor mekaar. Moet net nie ophou om daarvoor te bid nie. Moenie die moedeloosheid toelaat om een groot stuk ongeloof aan die krag van God in u lewe te word nie.

Op ’n ongedagte wyse kan Hy ons help in ons magteloosheid. Aan die wortel daarvan lê die kompleksiteit van die sonde. En Hy het gekom om ons van alle sonde en die werkinge daarvan te verlos. – WDJ