AARDSE BESITTINGS
Die Burger, 28 Maart 1987
’n Mens hoef nie noodwendig ryk te wees om gebonde te wees aan jou aardse besittings nie. Miskien is dit vir ’n ryk mens makliker om materialisties te wees en sy hart aan die veelheid van sy besittings te verpand. Die Bybel waarsku seker nie verniet teen die gevare van rykdom nie, en Jesus het nie sonder rede gesê dat dit makliker vir ’n kameel is om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God te kom nie (Lukas 18:25).
Maar dit sou kortsigtig wees om te dink dat dit net ’n ryk mens is wat materialisties kan wees. Daar is baie mense wat hulleself nie bepaald as ryk sou beskou nie en – wat ook inderdaad nie vergelykbaar is met diegene wat werklik ryk is nie – wat tog nie minder vas is aan die aardse dinge nie. Dit kan selfs wees dat dit vir ons uiters belangrik kan wees en dat ons onsself daaraan heg op ’n wyse wat heeltemal in stryd is met ons geloof in God.
Daarom kan ons so oormatig besorg en bedroef wees oor materiële skade en ons bekommer oor die dag van môre, asof ons lewe self afhang van die aardse dinge wat ons besit. As ons dit mooi nagaan, sal ons vind dat die grootste deel van ons tyd en kragte ingaan in die verkryging en bewaring van aardse dinge, en dat hierdie dinge ons gedagtes en hart baie meer vul as wat vir ’n gelowige mens reg is.
Dit is dikwels opmerklik hoe pynlik dit vir mense kan wees wat ouer word, om afstand van hul goedjies te doen wat hulle oor die loop van ’n leeftyd vergaar het. In die kleiner woning waar hulle moet intrek, of in die kamertjie van die ouetehuis, is daar nie meer plek vir al die dinge waarmee ons onsself omring het nie.
Vir sover dit in ons droefheid om van sulke dinge afskeid te neem om die sentimentele waarde gaan wat ’n mens aan die dinge heg omdat dit omring word deur herinneringe, is dit natuurlik volkome verstaanbaar. Maar soms is dit meer as dit: ons ervaar die afskeid van ons aardse besittings as ’n vorm van sterwe en dan merk ons eers hoe vas ons werklik daaraan is.
Daarom is dit goed as ons oë vroegtydig geopen word vir ons gehegtheid aan aardse dinge, sodat ons kan leer om onsself daarvan los te maak. Soms is dit nodig dat ons langs ’n weg van skade en verlies gelei moet word, sodat ons van ons aardse besittings vry kan word. Dikwels neem God bepaalde dinge van ons weg om ons te laat verstaan dat ons lewe nie daarvan afhanklik is nie en dat ons daarsonder baie vryer en onbekommerd kan wees.
Dit is iets waarvoor ons daagliks moet bid, dat God ons moet vrymaak van ’n verkeerde gehegtheid aan aardse dinge, sodat dit nie in die weg sal staan van ons geestelike verdieping en ons bereidheid om God en ons naaste met ons aardse besittings te dien nie. – WDJ